Photo Caption
Photo Caption

Ons taal

Die lengte van lente
Elsa Visser

Ek staar by die venster uit sonder om op iets spesifiek te fokus. 

Tussendeur die nimmereindigende gewoel van studente begin die kampus rek en strek ná die winter. Ek kan dit om my voel gebeur, ’n krieweling wat niemand kan plaas nie, maar waarin almal deel. 

Alles kruip en seil met die hoop dat die sleepstert-kouefront nou ook die laaste van sy soort was. Ons sê dikwels een swaeltjie maak nie die somer nie, maar Unam se voëllewe het besluit om saam teen dié aantyging te span. Die rooiwangparkiete en muisvoëls wip só baldadig tussen die bloeisels rond dat die skugter bome skaars tyd het om aan te trek ná die afseisoen. Terwyl ek die speelsheid onder die gewoonlik rustige (en oorgewig) kampusduiwe agterdogtig dophou, kan ek nie help om te wonder hoe Afrikaans haar eerste lente beleef het nie. Dit is uitdagend om ’n vaste beginpunt vir ons taal vas te stel, maar vir die doeleindes van my dagdroom werk ek met 1652. Toe Van Riebeeck en kie in die Kaap van Storms aangedoen het, was dit vroeg in April, en almal wat al tussen April en September in die Kaap was weet dit kan maar ’n nat en koue affêre wees. Dit lei my na die vraag: Hoe het ’n voorskadu van ’n taal die lente beleef? Die dae was langer en warmer, en prentjiemooi plante het orals begin bot en blom. Selfs die dierelewe moes spreek van ’n algehele uitbundigheid. Hoeveel van hierdie uitbundige speelsheid word net nie in Afrikaans weerspieël nie? Ons beeldryke, dubbelsinnige taal huppelstap deur September, soos wat sy seker daardie eerste keer gedoen het. 

En hier agter die venster beleef ek slegs een netelige kwessietjie; die lengte van lente. Dit is volgens my nie net die mooiste seisoen nie, maar ook die een wat die vinnigste onder ons uitvlieg. Ek troos myself aan die vooruitsig van purperpers moerbeie en stroopsoet waatlemoen – wie klink nóú soos die voëls?)


Elsa Visser 

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-09-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer