Ons taal
As ek soms twyfel oor wie en wat ek is, dan onthou ek: ek dink daarin, droom daarin en as ek my kleintoontjie teen die bed stamp, belowe ek jou, reageer ek beslis daarin. Afrikaans kom vanself – in die goeie en die eina-oomblikke van die lewe.
Daar is iets besonders aan Afrikaans. Een klein woordjie kan soms ’n hele verduideliking vervang. “Ag” kan simpatie, verbasing en irritasie beteken – die gesigsuitdrukking doen die res. “Sommer” het nie eens ’n behoorlike rede nodig nie, en met ’n goed geplaasde “mos” behoort almal reeds te weet waarvan jy praat.
Dan is daar natuurlik Afrikaanse tyd. “Nou” is redelik betroubaar, maar “nou-nou” is ’n ander storie. Dit kan oor tien minute wees, of wanneer iemand uiteindelik lus kry. En wanneer ’n Afrikaner by ’n kuier sê: “Ons ry nou,” weet almal daar is nog minstens een gesprek oor.
Afrikaans word egter nie net gepraat nie – dit word geleef. Dit sit saam om ’n braaivleisvuur en doop beskuit in koffie. Dit ruik na soetkaneel en stof ná die eerste reën. Dit vertel stories om ’n tafel en lag steeds vir dieselfde een, al hoor almal dit vir die honderdste keer.
Maar tussen al die “ag’s”, “mosse” en “nou-nou’s” lê iets diepers. Afrikaans dra ons stories, herinneringe en tradisies van een geslag na die volgende. Dit gee woorde aan waar ons vandaan kom en aan dit wat vir ons kosbaar bly. Dit hoef nie deftig of ernstig te wees nie. Dit kan terg, troos, lag en selfs ’n bietjie nonsens praat wees. Dit voel bekend. Dit voel gemaklik. Dit voel soos myne. Afrikaans lê nie net op my tong nie, dit klop in my hart en vloei deur my bloed.
Adéle van Niekerk
Afrikaansonderwyseres
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie