Photo Caption
Photo Caption

Ons taal

Sal jy of wil jy nie?
Emma Kirchner

Afrikaans het drie basiese sinstipes: die stelsin, die vraagsin en die bevelsin.  

Volgens my gesin het ek ’n groot probleem as dit by die bevelsin kom. Ek sal wraggies nooit beveel Help my met my rekenaar of Gooi vir my wyn nie. Ek weet asseblief laat dit darem meer na ’n versoek as na ’n bevel klink: Gooi asseblief vir my nog ’n glasie wyn. Nee, maar ek sal eerder versoek: Jy moet my (asseblief) met my rekenaar help. Sal jy my help om die tafel te skuif? Wil jy nie asseblief vir my help nie? Nee, ek wil nie; ek sal nie, spot my gesin dan. Die dogters kan nie glo dat ek, na dekades van getroude lewe, steeds nie weet hoe om my man enige iets te vra nie. 

Ek klop aan by prof. Wannie se Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Daar kry ek skietgoed vir my “bevelsin”-konstruksies. Hy onderskei tussen gewone bevele en negatiewe bevele. Bevele kan verder verdoesel word as beleefde versoeke. Ja, dit weet ek tog. Maar dis in die hoofstuk oor Pragmatiek waar ek rus vir my siel vind. Dit werk so: As gevolg van my gebrek aan mag en gesag sedert my aftrede, gebruik ek nie sommer ’n gewone bevelsin nie. Nee, ek pas allerlei hoflikheidsbeginsels toe. Ek is taktvol en beskeie en suggereer en vlei sonder om te bloos. Dink jy nie ons huis kort ’n laag verf nie? Dis ook hoekom ek vir my skoonseun sê: Jy weet so baie van selfone, kan jy help? Kan jy nie dalk help nie? Sal jy omgee. . . Wil jy? Sou jy nie dalkies. . .?

Maar so nou en dan (!!) hoor jy my: Moenie vir my voorskryf hoe om te praat nie!


Emma Kirchner

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-09-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer