Ons taal
Paljas klink vir my so toorderig – om om te tower in iets anders. Dis ’n heerlike sêwoord wat nuwighede kan skep.
Hierdie omtower-in-iets-anders kan sekerlik nie boos of lelik wees nie – net ’n spesiale lekkerte. Dit moet Aspoestertjie se pampoen wees wat in ’n pragtige koets gepaljas word voordat daar vir haar ’n hele nuwe paljastyd aanbreek.As die son se langer kuierure begin, word my eie wêreld weer gepaljas. Swarthaak maak klein speldekussingknoppies. En dan: plof! Sagte wit blommetjies soos poeierkwassies word uitgepaljas. Botseltjie vir botseltjie sit ander bosse vir swarthaak agterna.
Waar jasmyn groei, kan ek toe-oë sy geurpaljas inasem. Geen sproeibotteltjie kan dié diepruik namaak nie. Uit die winterstowwerigheid kom nuwe geure vol warmer sonlig. Die hele lug is gepaljas – anders. My voete jeuk om die botsels nader te loop en fyn te bekyk. Ek wil die nog-sagte lenteson se streling voel. Die hele aarde in ons suide wag op die nuwe tyd – die omtoor en ompaljas tot lentetyd.
Dis waarom ek so baie hou van die verwonderende wag op die koms van ’n hele nuwe seisoen. Die nuwe kom in ’n wêreld wat my dikwels sy eenselwige geykte draal moeg maak. In ons Kalahari moet jy fynkyk om die paljastyf van die lente raak te kyk.
Lentetyd is paljastyd. Paljastyd herinner my dat met elke nuwe kyk, dié wêreld om my splinterbotselnuut kan opstaan en uitstaan.
Dr. Nicoline Woest
Woordspoor K7


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie