Ons taal
Begin van die week behandel ek ’n teks met my studente en ons lees die woord “ontvlugting” raak. Ek vra wat beteken dit en die een student antwoord: “Escape”.
Ontvlugting word in die HAT6 gedefinieer as aktiwiteite wat jou ’n rukkie lank van minder aangename dinge help vergeet. “Bevryding” is ’n bekende sinoniem vir ontvlugting en dui figuurlik op die vrystelling van ’n verpligting. Escape se definisie is dus heel gepas: to find a mental break from daily stress.
Een van my goeie vriendinne skryf vroeër die week in my verjaarsdagkaartjie: “Mag jy baie tyd hê vir dit waarvoor jy lief is.” Dis eenvoudige woorde, maar dit het vir my uitgestaan en dieper laat dink.
Ek vind graag ontvlugting in lees, asook kreatiewe aktiwiteite soos borduur, inkleur, verf en foto-albums maak (scrapbooks). Om tyd saam met my geliefdes deur te bring, of tyd in die natuur deur te bring, bied ook ontvlugting vir my.
Liewe leser, mag jy ook hierdie laaste paar maande – wat juis gewoonlik die besigste maande is – tyd hê en selfs tyd máák vir alles (en almal) waarvoor jy lief is.
Nicolette Steyn
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie