Photo Caption
Photo Caption

Ons taal

Uit die oog, uit die hart – tot my smart
Annika van der Linde

Ek het vergeet. Al weer. Soos soveel kere vantevore. En nou weer.

Ek bewonder mense wat alles bymekaar kan hou in hul bewussyn; wat onthou, wat lysies maak en dan ook onthou om daarna te kyk. Ons almal ken die uitdrukking: “Uit die oog, uit die hart.” Wat ’n mens nie sien nie, onthou jy nie. Daar is waarskynlik min idiome wat só waar is vir iemand wat met ’n ADHD-brein leef.

Tog hou ek nie baie van dié uitdrukking nie. Om te sê iets is “uit die hart”, impliseer dat jy nie meer daaroor omgee nie. En as daar een ding is waaroor ek omgee, is dit juis al die dinge wat ek daagliks vergeet. Ek verwyt myself telkens daaroor, en ná soveel jare weet ek steeds nie presies wat om daaraan te doen nie.

Onderbroke slaap help natuurlik glad nie. Selfone, sosiale media en die aanhoudende stroom WhatsApp-boodskappe uit alle oorde maak dit net erger. Maar hoe ontsnap ’n mens van die ding wat jou aandag aflei, as dit terselfdertyd ook die ding is wat jou moet help onthou?

Die afgelope tyd voel dit asof ek emosioneel wipplank ry. Ek skommel tussen ’n toestand van oorweldiging, waarin ek oorval word deur alles wat ek vergeet het, en ’n toestand van saligheid, waarin ek vergeet het van alles wat ek eintlik moes onthou. ’n Verwante uitdrukking lui nie verniet: “Wat die oog nie sien nie, kan die hart nie deer nie,” bedoelende: ’n mens bekommer jou nie oor iets waarvan jy nie bewus is nie. Dit is die kruks van die saak, dit is nie dat ek nie omgee nie, dat ek nie wil nie, dat ek lui is nie. Dit is dat dit deur die gat in my bewussyn val asof dit nooit bestaan het nie. 

Vandag se rubriek is uit die vergeetboek gebore. Miskien is dit bedoel vir iemand wat met dieselfde remskoen in die lewe worstel. Miskien het iemand wat self hiermee saamleef selfs praktiese raad.

Ek wens ek kon vergeet om te vergeet. Vir eers kan ek maar net hoop op begrip en vergifnis van die mense rondom my. In plaas van “vergewe en vergeet”, hoop ek op “vergeet en vergewe” – as ek vergeet, sal jy my vergewe?


Annika van der Linde

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-11-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer