Photo Caption
Photo Caption

Ons taal

Winter
Petronella Genis

Hallo my Pa

Dis lekker winter hier in Pa se Swakop-huisie. Ja-nee, hierdie kuskoue is anderster as in die binneland, maar ongeag – winter bly biltongtyd. Ons het weer vir Ma Lien ’n bietjie biltong ingepak, maar dis heeltemal anders as al die vorige kere. Ai, ek wens ek kon Pa (en Ma Poppie) ook laat proe, want weet Pa wat? Dis die eerste keer wat ons ons eie biltong gemaak het! Ja, Pieter en Christo het voorverlede naweek gestap om gemsbokke te gaan soek, of soos hulle sê, te bekruip. En Christo het sowaar sy eerste bok geskiet. Swaer Hector het met die vernuf uit sy blokmandae die groot stukke vleis van die bene afgesny, maar toe moet hy agter die lessenaar inskuif om sy preek vir Sondag af te handel. Toe kry ek die kans om die vleisstukke naatlangs te sny. Pa-hulle het ons mos van kleins af laat vleiswerk. Sjoe, ek voel nog die Schaaprivier-koue in my litte! Ons kinders moes die vleis in blokkies sny, terwyl Pa en Ma so ght-ght die groot stukke uitmekaar gesny het. Ek het skielik so groot gevoel! (Amper soos toe ek vir die eerste keer self die kaneel oor die melktert mag gestrooi het.) Nou kou ek aan ons eie stukkie biltong. Ma Lien sê dit proe nou soos regte egte biltong. As deel van die kuier en gesels met die vleiswerkery, het die vraag ontstaan waar die woord biltong dan vandaan kom. Die tong deel is redelik sigbaar, want die stroke (of mote) het mos die vorm van ’n tong, maar die bil deel? Die etimologiewoordeboek sê dit kom van bil, die Nederlandse woord vir boud. En net onder daardie inskrywing ontdek ek toe ook sommer ’n nuwe intensiewe vorm: ons hoef nie meer van brandmaer te praat nie, maar sommer biltongmaer!

Tot later, my Pa.


Petronella F Genis

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-09-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer