Ons taal
En toe gebeur dit weer.
Op ’n stralende Saterdagoggend gaan stap ek met my energieke Golden Retriever en meer besadigde Labrador in die veld. Hulle is uitgelate en snuffel en verken elke bossie en klip. Alhoewel my goue seuntjie, Luca, ’n reputasie het dat hy soms bietjie weghardloop, voel ek so positief, dat ek hom bietjie langer sonder ’n leiband laat loop. En ja ... natuurlik ruik hy die groot Vryheid en kies sy eie koers op ’n afdraaipaadjie wat uiteindelik iewers op die teerpad tussen die huise uitloop.
Ek en getroue Anouk stap maar terug na die Land Rover waarmee ons altyd tot teen die veld ry. Ons klim in. Ek toet ’n paar keer en roep, “Luka! Kom baba!”
Geen baba. Ek ry in die straat tussen die huise op en af. Toet. Stop, klim uit en kyk oral. Geen Luca.
Ek ry nog ’n paar keer op en af en gaan dan terug na die plek waar ek aanvanklik geparkeer was. Ek sien ’n sekuriteitswag wat deur die veld aangestap kom.
“Good morning, Sir. How are you?” vra ek.
Groot glimlag. “I am fine, Mam. How are you?”
Ek klim uit die Land Rover en stap nader.
“I am fine, Sir. What is your name?”
Nog wit tande. “My name is Joseph.”
“Oh … like in the Bible?”
“Yes, Mam.”
“Joseph, did you perhaps see my dog? It is a Golden Retriever.”
Joseph lyk bekommerd. “You lost your dog? Is it a small dog?”
Ek skud my kop. “No, it is a big dog.” Ek wys hoe hoog van die grond af. “And the colour?”
“Joseph … it is a Golden Retriever. The colour is sort of … light brown.”
En Joseph se glimlag raak selfs nóg breër. Hy wys met sy hand oor my skouer in die veld se rigting. “Like that one?” Ek kyk oor my skouer. En daar kom Luca met oopbek en waaistert uit die veld aangedraf. “Aai, Luca.”
Ek maak die deur oop vir my onnutsige goue seuntjie. Hy spring baie vrolik en in sy skik in. Ek draai terug na Joseph.
“You see, Joseph, I just had to speak to you … and there my dog appears!”
Nou lag Joseph. “Yes Mam, I am a prophet! What is your dog’s name?”
Ek vryf my vierbeenseuntjie se kop. “His name is Luca.”
Joseph waai vir Luca. “Bye bye, Luca … and Goodbye Mrs …”
“Alexander,” sê ek. “And thank you for helping me to find my dog!”
Terwyl ek huis toe ry op hierdie lieflike sonskyndag, dink ek aan die onverwagte, vreugdevolle insidente en ontmoetings in die lewe. Ek kyk in my spieëltjie na die twee engeltjies wat met lang tonge op die agterste sitplek sit. En ek dink aan die ou Afrikaanse volksliedjie van die verliefde kêrel wat so swaar kry oor die ou meisietjie wat soveel gemengde gevoelens wakkermaak:
Santjie van Soendal, o nooi van my hart
bron van my vreugde en bron van my smart!
Ek praat oor my skouer met Luca: “Luca, jy is die bron van my vreugde én bron van my smart.”
Susan Alexander
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie