Photo Caption
Photo Caption

Ons taal

Haas jou langsaam
Adéle van Niekerk

“Haas jou langsaam”, dit is seker een van Afrikaans se vreemdste gesegdes. Dit klink soos raad van iemand wat nie heeltemal kon besluit wat hy eintlik wou sê nie. Haas ek, of haas ek nie? Toe besef ek: dalk is dit juis die punt. 

Ons leef in ’n wêreld waar alles vinniger moet gebeur. Kitskoffie, kitskos, kitsaflewering en, as dit kon, seker ook kitsslaap. Ons raak ongeduldig as ’n webblad langer as vyf sekondes vat om te laai, maar ons verwag terselfdertyd dat goeie dinge sommer oornag moet gebeur. As iemand vra hoe dit gaan, antwoord ons amper outomaties, “Ag, besig!”. Dis asof besig wees ’n medalje geword het. Hoe voller die dagboek, hoe belangriker voel ons. Intussen jaag ons so dat ons later nie eens kan onthou waarvoor ons in die kombuis ingestap het nie.

Die ironie is dat hoe vinniger ons probeer leef, hoe meer verloor ons langs die pad. Ons hoor nie meer wat ’n kind eintlik probeer sê nie. Ons sien nie die son wat stadig agter die horison sak nie. Ons drink koffie sonder om dit te proe, en kuier terwyl almal eintlik na hul selfone kyk.

Om jou stadig te haas beteken nie jy moet lui wees nie. Dit beteken jy beweeg doelbewus. Jy leef langsaam genoeg om die klein dinge raak te sien: ’n glimlag, ’n grappie, ’n sonsondergang of ’n geliefde se stem. Wat help dit jy kom eerste by jou bestemming aan as jy die hele reis gemis het?

Miskien het ons juis hierdie ou gesegde vandag nodig, nie omdat ons minder moet doen nie, maar omdat ons moet onthou om soms stadiger te haas. Die lewe is te kosbaar om dit net verby te jaag.


Adéle van Niekerk

Afrikaansonderwyseres

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-08-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer