Ons taal
Ons taal

Ons taal

Boerneeftaal
Dr. Nicoline Woest

Soos deesdae se sangers en sanggroepe het Boerneef toeka vir hom ’n gepaste beskrywende Afrikaanse ander naam gekry. Eintlik heet hierdie digter, leksikograaf, akademikus en professor I.W. van der Merwe.

Boerneef skryf graag oor die gewone mens, oor die hunkering na die plaaswêreld en knyp nie oë toe vir die moeilikhede en dikwelse swaarkry van die mens nie. Hy speel graag met die taal en skep ’n soort eie Boerneeftaal. So noem hy sy een digbundel Krokos wat staan vir Karookos.

Die bekende toonsetting van sy “Voshaarnooi” en “Lappa lei vir Bella koud” skep nostalgie. “Fennie die snaar...” Hier is “fennie” Boerneef se eie werkwoord vir hoe die snaar getrek word. Boerneef skryf graag soos ons praat:

Horie petryse ennie fisane

Singie petrysenfisanthoesane

En die rede waarom die patryse en fisante so sing, is omdat dit gereën het.  

Oor die mens en swaarkry:

’n Aand kan soms so vrek venynig wees

en ’n sterweling dan liederlik kasty

die lewe is mos nou maar so

dat elke ou sy aande kry

maar een maal elke skrikkeljaar

sit hy sy neukery opsy

skuif ’n gordyn oop en so wragtagwaar

die njabbas en kombrokomfyt staan klaar

Ek is saam met Boerneef en sy eie seggende taal dankbaar oor die “oop gordyn” en “die njabbas en kombrokomfyt” waarmee ek as mens soms bederf word. Dan wil ek ook saam met die “fisane en petryse” hosanna sing!  


Dr. Nicoline Woest

Woordspoor K7

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-09-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer