Ons taal
Sosialemediaplatforms se algoritme-plasings wat opduik is soms eerder oorweldigend, frustrerend of bloot irriterend as wat dit vermaaklik, ontspannend en sielsbevredigend is; tog duik daar dikwels iets oulik uit die bloute op wat die lees werd is.
As taalliefhebber is ek stil dankbaar as hierdie plasings interessante taalverskynsels insluit, al handel dit nie net oor Afrikaans nie, maar ook Nederlands of Engels. Die Engelse plasings oor verouderde woorde of onbekende woorde om emosies/gevoelens te beskryf, is legio, maar meer onlangs het ’n soortgelyke een oor Nederlands by my vasgesteek. Verskoon my dat ek al drie bogenoemde tale in hierdie rubriek insluit.
Die plasing verskyn op tupkertaaltraining se Instagram-blad en heet 6 Dutch word for feelings you’ve always had:
– pretoogjes: literally “fun eyes”; the little twinkle someone gets when they’re playful, mischievous or up to something. (Gebruik dit so: Ze keek me aan met pretoogjes.) Afrikaans kan dit gerus maar inspan as leenwoord – “pretogies”.
– gezellig: a feeling of warmth, comfort and coziness, when everything feels right; the place, the people, the moment all at once. (Gebruik dit so: Wat een gezellige avond.) Afrikaners is lank reeds goed vertroud met “gesellig”.
– nagenieten: to keep savoring a good experience even after it is over; basking in the afterglow. (Gebruik dit so: Ik ben nog aan het nagenieten.) My suster se voorstel van ’n neologisme (nuutskepping) hiervoor is omtrént oulik – “onthougenot”.
– sterkte: “strength to you”; said when someone is facing something hard, big or small. (Gebruik dit so: Sterkte met je spierpijn morgen!) Afrikaners wens mekaar graag sterkte toe en dis ’n gerusstellende omgee-gebaar waarvan ons nie moet afstand doen nie.
– voorpret: the joy and excitement you feel in anticipation of something fun; pre-fun, before the fun even starts. (Gebruik dit so: De dikke voorpret is al begonnen.) Afrikaans bevat dalk wel (nog) nie hierdie woord nie, maar ons pas dit vir seker toe – Afrikaners is mós plesierig!
– gunnen: to find happines in someone else’s happiness because that’s how much you love them. (Gebruik dit so: Ik gun het haar.) In Afrikaans gun ons graag elkeen hul regmatige plekkie in die son.
Twee woorde wat egter eiesoortig is aan Afrikaans en wat net nie dieselfde trefkrag het as hul Nederlandse en Engelse eweknieë nie, is “kuier” en “oulik”.
Kuier is so allesomvattend en kan in soveel kontekste gebruik word dat die Engelse visit en die Nederlandse bezoek dit ongelukkig nie tot sy volle reg laat kom nie. Interessante feit: “Kuieren” in Nederlands is glad nie ’n sinoniem vir besoek nie, maar beteken wandeling (rustige stappie).
Eweneens is oulik ’n beskrywende woord wat in ontelbare kontekste ingespan kan word en die Nederlandse leuk en Engelse nice of cute slaag doodeenvoudig nie daarin om vas te vang wat oulik alles behels nie.
Elzeth Harmse
Afrikaansonderwyseres
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie