Ons taal
Seisoen word gedefinieer as “een van die vier periodes (lente, somer, herfs, winter) waarin ’n jaar verdeel word en elk word bepaal deur spesifieke weerstoestande”. Jaargety word as sinoniem aangedui.
Hier in Namibië voel dit die afgelope paar weke asof ons vier-jaargetye-in-een-dag beleef: koue oggende en aande, warm dae, koel winde en tussendeur reën ook. Uit weerberigte blyk dit in die Wes-Kaap gaan dit net só – wel tot ’n ergere mate.
Verlede week WhatsApp ek een van my vriendinne wat in die Boland woon om te hoor watter klere ek dan nou moet inpak vir my Kaapse draai – aangesien die weersomstandighede pal bokspring.
Emke-vriendin, met hierdie wenner van ’n antwoord en jou vier-seisoene-in-een-dag-wysheid ontbloot jy jou skrywerstalent aan die wêreld en ek is dankbaar dat ek jou skerp humorsin mag deel.
“Wat die navraag oor ons atmosferiese toestande betref: Die Kaapse weer is tans meer onvoorspelbaar as ’n tiener op TikTok. Jy gaan ongetwyfeld die volgende vier spesimens op ons strate aantref:
– Die Amfibiese Spesie: Hierdie individue beskou ’n ligte motreëntjie as die voorloper van ’n vloed van Bybelse proporsies. Hulle navigeer die strate in volledige neopreen-duikpakke, gereed om na die naaste supermark te swem sou die stormwaterdreinering faal.
– Die Eskimo-Profeet: Hierdie vreesagtige siele begin reeds die termiese onderklere en dik nertskleed uit die motbolle grawe sodra ’n enkele wolk op die verre horison vermoed dat dit oor twee dae dalk liggrys mag verkleur. Hulle lyk soos wandelende donskomberse wat enige oomblik ’n ekspedisie na die Suidpool gaan loods.
– Die Geharde Suid-Afrikaanse Patriot: Die onmiskenbare Boer wat weier om sy somer-identiteit prys te gee. My persoonlike gunsteling. Hy troon uit in ’n swaar, waterdigte Parka-baadjie wat hitte binnehou, en sodat sy vitale organe nie tot ysblokkies transformeer terwyl hy deur die enkeldiepte plasse skoffel nie. Maar onder die knieë is dit pure vryheid: kaal bene en sy getroue plakkies. Want, soos ons weet, is ’n boer se kuitspiere immuun teen bevriesing.
– Die Onverbeterlike Modepoppie: Sy wat weier om die estetika van die somer te laat vaar en die strate aandurf in flenterdun sykouse en modieuse pumps. Intussen het sy lankal reeds in ’n menslike ysbeeldjie verander en word sy gereeld in die gimnasium se sauna aangetref waar sy desperaat probeer om haar bevrore ledemate weer tot hul natuurlike staat te ontdooi.
Bring dus maar daardie sneeupakkie. Al sneeu dit nie, sal jy ten minste inpas tussen die “Alaska-tannies” wat dink die Noordpool het na Rondebosch geskuif of by die dramaturge wat dink die volgende Ystydperk het gearriveer.
“Jy moet maar kyk in watter kategorie jy jouself bevind, maar as jy soos die res van die Wes-Kaapse populasie nie skrik vir ’n bietjie reën nie, sou ek sê ’n warm baadjie is genoeg.”
Elzeth Harmse
Afrikaansonderwyseres
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie