Ons taal
Anglisismes maak baie Afrikaanssprekendes angstig.
In ’n artikel oor taalsuiwerheid skryf Sophia Kapp, skrywer en taaladviseur, die volgende: “Daar is kwalik beter klikaas op ’n taalforum as die woord ‘anglisisme’. ’n Mens begin nog net met die gesprek, dan is iemand al kwaad. Tien kommentare later, en die baklei is volstoom aan die gang.”(Maroela Media, 2018).
Suléne Pilon, voorsitter van die Taalkommissie, vertel in ’n podsending dat anglisismes die taalverskynsel is wat Afrikaanssprekendes die meeste ontstel, maar ook die taalverskynsel is wat die meeste verkeerd verstaan/geïdentifiseer word (RSG Op en Wakker, 2023).
Die HAT Taalgids definieer die woord anglisisme as ’n woord of frase wat wesenlik Engels is, maar voorgee om Afrikaans te wees, en ’n gevestigde idiomatiese Afrikaanse woord of frase verdring. Verder verduidelik die HAT Taalgids ook dat nie alles wat soos Engels lyk of wat uit Engels afkomstig is, ’n anglisisme is nie.
Die redes hiervoor is omdat Afrikaans en Engels beide Germaanse tale is en dus sekere woordeskatelemente deel. Afrikaans en Engels het albei ryklik by Romaanse tale geleen, wat ook sorg vir sekere ooreenkomste. Afrikaans en Engels bestaan al minstens twee eeue naas mekaar, dus is dit onvermydelik dat hulle mekaar beïnvloed het. Nog ’n rede is ook omdat daar leemtes in die leksikon/woordeskat van tale ontstaan a.g.v. byvoorbeeld tegnologiese vooruitgang. In die laasgenoemde gevalle word daar dikwels van “leenvertaling” gebruik gemaak – ’n leenwoord wat (in spelling en uitspraak) verafrikaans word.
Suléne Pilon lig die volgende woorde of frases uit wat wél anglisismes is en dikwels voorkom:
– Die gebruik van “hierdie” sonder ’n naamwoord aan die begin van ’n sin, bv. “Hierdie is my gunstelingliedjie.” (This is my favourite song.) Korrek: “Hierdie liedjie is my gunsteling.”
– “Ek doen.” (I do) Byvoorbeeld: “Hou jy van die TV-reeks? Ja, ek doen.” Korrek: “Ja, ek hou daarvan.” Of net “Ja.” Rede: In Afrikaans is “doen” ’n oorganklike werkwoord wat nie sonder ’n voorwerp gebruik kan word nie.
– “Probleem aanspreek”. (To address a problem.) Korrek: “Probleem bespreek/oplos/ hanteer.” Rede: “Aanspreek” is ’n oorklanking van “address”, dit verdring die Afrikaanse uitdrukking “ons moet die probleem oplos/hanteer”, en dit is strydig met die korrekte gebruik van “aanspreek”, wat in Afrikaans “praat met” of “raas met” beteken (Sophia Kapp, Maroela Media, Tel jou woorde, 2018).
– “Terme en voorwaardes” (Terms and conditions). Korrek: “Bepalings en voorwaardes.”
– “Sy was gebore in 1967.” (She was born in 1967.) Korrek: “Sy is gebore in 1967.”
Taalgebruikers wat twyfel word aangeraai om te steun op die mees onlangse woordeboeke en vakterminologielyste. Wanneer ’n woord of uitdrukking op hierdie wyse gestandaardiseer is, is die gebruik daarvan in standaardtaalkontekste geldig.
Vermy dus ’n oningeligte “anglisismejag” om sodoende “anglisisme-angs” te voorkom.
Nicolette Steyn
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie