Ons taal
Ek gaan binnekort ’n vrou ontmoet. Hierdie vrou is een van ons eie mense: gebind aan ons land en sy mense; ons natuur en die diere. Hierdie vrou het baie woorde. En sy weet hoe om hierdie woorde in te span.
Sy kan prentjies teken met haar skrywerskwassie en palet van kleure wat pas by elke prentjie. Omdat sy van die suide van ons land af kom, ken sy die troostelose kleure van droogte: skakerings van bruin en swart en vaal.
Maar haar sintuie het oor die jare verskerp, sodat sy die geringste afwyking van droog onmiddellik raaksien… soos een Kersoggend op hulle plaas: “Terwyl ek daar sit en oor die droë veld uitkyk, sien ek die brosdoring met sy lieflike pienk sade. Dit was nie vroeër daar nie. Dit skep ’n ongelooflike kontras – die vaal en droë veld, en dan skielik hierdie helderpienk bos.”
Sy gebruik haar woorde om haar liefde vir haar man en kinders vir ons te teken – haar boerman met ’n hanslam onder die arm; haar dogters wat haar elke Moedersdag bel en dan kan sy dink aan al die “oppe en affe” van kinders grootmaak op ’n plaas waar mens ver van alles af is en jy moet improviseer tydens die somervakansies om sinvolle aktiwiteite binnenshuis te bedink … want onder die onversetlike son kan mens dit nie waag nie.
Bo al die temas, is die mens se afhanklikheid van wat in die natuur gebeur. “Dis nie beendroog nie. Dis dooddroog. Morsdood-dooddroog.”
Sy skryf hoe hierdie tipe droogte meer van ’n mens vat “as wat mens jou kan voorstel. Dit vat tot jou keuses weg.” Na 30 jaar wat sy en haar Boerman saam geveg het om die plaas en hulle lewe aanmekaar te hou, moes sy tydelik die plaas verlaat om te gaan werk. Maar sy skryf: “En soos so dikwels is daar mos altyd baie om voor dankbaar te wees. My sus het vir ons ’n boei uitgegooi en ek het hom gevang en ek gaan help waar ek kan, totdat ons hierdie droogte bloedneus kan slaan en ek kan terugkom na my Boerman, my diere, my tuin en my huis.”
Hierdie vrou met haar baie woorde kom kuier in Windhoek volgende week. Sy is Hester Steenkamp wie se boek, Kreef en Kaiings, op Dinsdag 31 Maart om 18:30 by die NG Kerk, Windhoek-Oos bespreek word. Kom luister na die woorde van hoop en wanhoop, planne maak – maar bo alles, dankbaarheid vir die liefde en … ja, die genade.
Susan Alexander
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie