Ons taal
Ons taal

Ons taal

Marsjeer ’n nuwe seisoen tegemoet
Elzeth Harmse

Verlede week was ek by ’n afskeidsete van ’n vriendin wat na Suid-Afrika verhuis. ’n Klompie van die spesifieke vriendegroep het mekaar vanjaar vir die eerste keer by dié ete gesien. Met die groet het meer as een opgemerk: “Ek het jou so lanklaas gesien, die jaar vlieg verby, ons is dan al in Maart!”

Ons is inderdaad al hier ja, en as ek na plasings op sosialemediaplatforms kyk, is Maart deesdae een van die gevreesde maande op die kalender. Oral is memes wat ons daaraan herinner dat die wêreld onherroeplik verander het sedert Maart 2020. 

En vanjaar, so net voor Maart amptelik begin het, is oorlog verklaar. Hoe ironies, aangesien die naam Maart afgelei is van die Romeinse god van oorlog, Mars. Op die antieke 10-maandlange Romeinse kalender was Maart egter oorspronklik die eerste maand van die jaar. 

Maart dui op die begin van lente in die Noordelike Halfrond en die begin van herfs in die Suidelike Halfrond – dié verskyning staan ook bekend as die ewening (equinox). Dié ewening gebeur jaarliks op 20 en/of 21 Maart, dus óp hierdie oomblik.

Ander interessante (en vreemde) feite oor Maart sluit in: 

– Elke jaar eindig Maart en Junie op dieselfde dag van die week. (Ek het kalenders gaan beloer en was verstom!)

– 15 Maart is bekend vir die dood van Julius Caesar.

– Op 17 Maart word St Patrick’s-dag wêreldwyd gevier.

– Die uitdrukking “mal soos ’n haas” se oorsprong is mad as a March hare aangesien die draai van hierdie seisoen baie mense al blykbaar na raserny gedryf het.

Op ’n meer persoonlike noot, het ek egter verskeie vriende en familielede wat in Maart verjaar. Mag julle Maart eerder ervaar as dit wat dit oorspronklik was – die begin van ’n nuwe jaar en dus die begin van nuwe geleenthede om aan te gryp. Marsjeer (march) daarom hierdie nuwe seisoen – wat opnuut hoop kan meebring – tegemoet.


Elzeth Harmse

Afrikaansonderwyseres 

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer