Ons taal
Ons taal

Ons taal

PVATN-kongres
Prof. Herman Beyer

Vandag en môre vergader ongeveer 160 Afrikaansonderwysers uit alle onderwysfases van regoor Namibië in Windhoek vir die 26ste nasionale kongres van die Professionele Vereniging vir Afrikaans Taalonderrig in Namibië (PVATN). 

Die PVATN is ’n vereniging wat in 2001 deur die inisiatief van die Vakgroep Afrikaans aan die Universiteit van Namibië gestig is nadat gevind is dat Afrikaansonderwysers behoefte daaraan het om met mekaar te gesels oor gemeenskaplike vakkundige en onderwyskundige uitdagings, by mekaar te leer en onder mekaar te netwerk. 

Die kongres duur gewoonlik twee dae, waartydens plaaslike en internasionale kundiges op verskillende terreine in Afrikaans en die opvoedkunde die leerkragte toespreek en werkswinkels aanbied. 

Vanjaar kom onderwerpe soos leestegnieke, taalkundige aspekte, gerigte skryfwerk, drama, gedigte en die bespreking van nasionale vraestelle aan die bod, om maar enkeles te noem. Suid-Afrikaanse sprekers sluit in die bekende jeugverhaalskrywer Fanie Viljoen. 

Die eerste jaarlikse kongres in 2001 het sowat 50 deelnemers gehad, en sedertdien het die getalle jaarliks toegeneem, wat bewys dat die PVATN en sy nasionale kongres inderdaad in ’n behoefte voorsien. 

Senior staatsamptenare soos die Minister van Onderwys en die Streeksdirekteur van die Khomas-onderwysstreek het ook reeds van die PVATN se kongresse geopen. Afrikaansonderwysers sien met groot verwagting uit na hierdie jaarlikse geleentheid tot die deel van kennis, die slyp van vaardighede en voortgesette opleiding.


Prof. Herman Beyer

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-03-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer