Ons Taal
Moedertaaldag is om die draai. . . ’n dag waar ons Afrikaans kan praat. . . Afrikaans kan hoor. . . Afrikaans kan vier. . . en Afrikaans kan voel.
Ons vier hierdie dag nie net met pannekoek, koeksisters en braaivleis nie, maar met woorde. Daar is niks wat my siel ooit so bekoor soos die koesterende woorde van ons pragtige taal.
Maar, daar is iets wat kort. . . ’n leemte. . . ’n verlange. Ek verlang na daardie geliefkoosde Afrikaanse woorde van toentertyd. . . daardie kanniedood woorde. . . daardie woorde wat wraggieswaar jou kop laat rondomtalie draai.
Nou die dag kom ek op ’n kiekie af waar ek met my boskasie in my baaibroek staan. Ek onthou daardie dag, dit was omtrent ’n tranedal, en so hittete of ek was gefoeter. Ek wou mos ’n hardekoejawel wees.
Ek hoor nou nog my pa, “Trek reg jou mombakkies!”. As hy gepraat het, het ek myself disnis geskrik. Dit het dan gevoel ek kan tot in die gramadoelas hardloop. My pa was glad nie in sy noppies met my manewales nie, maar kort voor lank was alles weer klopdisselboom.
Al het dit soms broekskeur gegaan, was ek altyd bederf met ’n japon, nagkabaai en ’n snoesige kooi. Ek was nooit vol fiemies nie, maar ’n luie lummel en ’n takhaar kon ek nie verdra.
My pa se woorde, “Ek begrawe hom by die langboompies”. Hierdie gomtorre maak net marakkas en flikvlooi met elke flerrie. Ek bly maar eerder daai jollie-patrollie-meisie vol fieterjasies, lief vir die mallemeule en skoppelmaai. ’n Rabbedoe, lief vir wolhaarstories en bollemakiesies.
Allemapstieks! Gee daai pluimpie en koester daai polfyntjie. Afrikaans. . . bly by my tot die bittereinden.
Adéle van Niekerk
Afrikaansonderwyseres
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie