Ons taal
Ons taal

Ons taal

Sandvis
Dr. Emma Kirchner

Een van my geliefde plekke op hierdie aarde is Sandvishawe (oftewel Sandwich/Sandfisch). 

Elke jaar moet ek eenvoudig ’n draai daar maak. Vir so ’n reis seelangs moet jy mooi beplan, want tydens hoogwater kan jy nie deur die swartbankies nie. Ja, jy kan duinlangs, maar dis nie hoe ons dit doen nie. Ons ry seelangs. Jou deftige 4x4 is maar ’n klein krappie vasgekeer tussen oseaan en honderdmeterhoë duine. Die klein gehuggies waarby ons 20 jaar gelede verbygery het, het intussen onder ons oë in die sand verdwyn, en grootliks ook die hawe wat eens vir skepe veilig was. Tans is Sandvis ’n beskermde varswaterlagune met ’n ryk voëllewe, enorme sandduine een kant, die magtige Atlanties ander kant. My hart klop altyd vinnig as ons by die bordjie kom wat waarsku: slegs voetlangs nou. En as jy daar beweeg, voel dit asof jy lig moet trap, want eintlik wil jy nie eens ’n spoor laat op die dun korsie songebleikte sand nie. Jy stap asof jy een van die eerste mense is wat voet neersit, en jy wonder oor daardie eksentrieke kluisenaar en sy geraamtelyfwag Felix wat volgens oorlewering in die jare 1880 daar gebly het. Elke besoek aan Sandvis bly sonderling, soms helderblou lug en rooibruin duine, ander dae mistig en misterieus. Jakkalse hou daar en hul spoortjies wys onbelemmerd waar hulle ’n rob (of dalk net sy karkas) bygedam het. Met my laaste besoek is my asem weggeslaan deur drie pragtige strandlopereiertjies wat – in die oopte – perfek met die Sandvissand saamsmelt.    

Nou wonder ek: is dit dalk my laaste besoek aan “Sandwich harbour” sonder ’n konsessiehouer en gids? 


Dr. Emma Kirchner

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer