Ons taal

Tyd is ’n dief
Sanet Pearson

My stem was vir ’n ruk lank stil hier in die Ons Taal-rubriek. Die rede daarvoor is omdat ek die groot voorreg gehad het om ’n ma te word! 

Volgende week word ons dogtertjie al agt maande oud en iets wat ek onlangs gereeld by mede-mammas raaklees, is “tyd is ’n dief”.

Dis ’n bekende metafoor wat beteken dat tyd ongemerk verbygaan en oomblikke, geleenthede of selfs lewensjare steel. Hierdie metafoor beklemtoon die vlugtige aard van die lewe en die onkeerbaarheid van tyd. 

Ja, tyd ís ’n dief. Maar tyd is ook soveel méér. Dis ’n geskenk. ’n Voorreg. ’n Lening. ’n Skat. Tyd is juis so kosbaar omdat dit só vlietend is. 

Wanneer jy eerstehands beleef hoe jou baba teen die spoed van lig groei, waardeer jy elke sekonde en oomblik soveel meer. Jy benut die geleenthede om te sorg dat hierdie spesiale oomblikke wel níé ongemerk verbygaan nie. 

Daar is ’n bekende aanhaling van Eleanor Roosevelt wat my elke keer weer die waarde van tyd laat besef: “Vandag is die oudste wat jy al ooit was én die jongste wat jy ooit weer sal wees.” 

Mag 2026 gevul wees met oomblikke waarin dit vir ons voel of tyd (selfs net vir ’n rukkie) stilstaan en mag jy altyd onthou om werklik teenwoordig te wees in elke oomblik wat vir jou geskenk word. 

 

Nicolette Steyn

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

 

* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-03-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer