Ons reis
Ek het jou vir die eerste keer in 1978 in die hartjie van Owamboland ontmoet. Daar in jou dorpie Oshakati het jy my hart gesteel met jou uitgestrekte, droë, plat vlaktes, en jou prentjiemooi sonsondergange met die silhoeëtte van jou ikoniese makalani-palms. Jy was gedoop, Suidwes-Afrika.
Te danke aan my pa se polisieloopbaan was dit moontlik om jou beter te leer ken. In 1982 het ons reis begin na jou sentrale dorpie Omaruru. In hierdie klein dorpie van jou het ek met kleuterskool begin, en sal ek nooit my daaglikse roete vergeet nie. . . deur jou rivier en oor jou treinspoor. Jou reënseisoen maak Omaruru op sy mooiste en verander elke tuin in ’n blommeparadys. Jou Omarururivier wat deur die dorp suis, bring lewe en vreugde vir oud en jonk.
Na drie jaar van Omaruru se natuurskoon, val ons weer in die pad. Jou kronkelpad lei ons na jou mees suidwestelike diamantmyndorpie, Oranjemund. Dit was 1985 en die jaar wat ek met skool begin het. My pa het hier by die polisie se Diamant-en-Goud-tak aangesluit en was bevoorreg om in jou Sperrgebiet met jou alluviale diamante te werk. Oranjemund is ’n merkwaardige dorpie, waar mak gemsbokke in die strate ronddwaal, en ewe rustig in elke tuin ’n draai maak.
Tyd stap aan, en in 1988 is ons wiele weer aan die rol. Hierdie was ons langste en verste pad ooit, maar die opwinding was groot om jou noordelike dorpie Tsumeb te ontmoet.
Hoe geseënd was ons nie hier nie. Ons nuwe tuiste was omring met mango-, lemoen- en suurlemoenbome, twee groot maroelabome en ’n vyeboom. Hier het ek met laerskool klaargemaak en met hoërskool begin. Elke uitnaweek het ons die karavaan gepak... verby jou kopermyn. . . verby jou Guinas- en Otjikotomeer tot by jou diereryk. . . die Etosha-panne.
Twee jaar later in 1990 het jy jou nuwe naam gekry... Namibië, afgelei van jou oudste woestyn. Jou land was in rep en roer, en jou mense in ekstase.
So het die tyd verbygegaan en in 1994 was ons tasse weer gepak. Swakopmund, jou heel westelike dorpie, hier kom ons. Dit was ons opwindenste reis ooit. In hierdie idilliese, rustieke kusdorpie het ek my hoërskooldae voltooi en het my grootmenslewe begin. My pa se polisieloopbaan het in Swakopmund tot ’n einde gekom.
Swakopmund, jy het my hart betower met jou rivier, jou duine, jou strande, en jou unieke argitektuur. Die klanke van jou brekende branders en singende meeue bring antwoorde op so baie van my vrae. Jou koue, klam lug omvou my soos ’n warm kombers. Jou sout-en-mos-reuk bring kalmte, soos ek dit diep in my longe inasem.
Vir jou Swakopmund sal ek vir ewig koester. Hier het ek die liefde van my lewe ontmoet, geboorte geskenk aan my pragtige tweelingseuns, en my geliefde ouers verloor. Jou kusdorp was my tuiste vir 30 jaar en met ’n seer hart vat ons weer die pad.
Dis 2025 en hierdie keer is dit ’n kortpad na ons sentrale bestemming. . . Hallo Windhoek! Jou pragtige hoofstad verwelkom ons met jou mooiste groen doringbome en heerlikste somerreën. Tyd staan nie stil nie, en wie weet wanneer die wiele weer gaan rol.
Namibië. . . Ek sê dankie vir 47 jaar se ongelooflike reis. . . deur dik en dun. . . goeie en slegte. . . het ons die pad saam gestap.
– Gasskrywer
– [email protected]
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie