Aurelia SMN
Aurelia SMN

Ons moet weer leer om na mekaar te luister

Aurelia sê maar net
Aurelia Afrikaner

Ons het vergeet hoe om na mekaar te luister.

Nie net om iemand se woorde te hoor nie, maar om werklik te luister. Om stil te raak, ons fone neer te sit en vir ’n oomblik ons eie opinies opsy te skuif sodat ons kan verstaan wat iemand anders probeer sê.

Ek sien dit elke dag. Ons is vinnig om te antwoord, vinnig om te oordeel en selfs vinniger om te besluit wie reg en wie verkeerd is. Soms luister ons nie eers om te verstaan nie, ons luister net om ons beurt af te wag sodat ons kan terugpraat.

Ek wonder dikwels wanneer ons so geword het. Wanneer het ’n gesprek verander in ’n kompetisie waar die persoon wat die hardste praat, glo hy of sy wen? Wanneer het ons opgehou om mekaar se stories te hoor? Want die waarheid is, elke mens dra iets wat ons nie altyd kan sien nie.

Die persoon wat vandag kwaad is, dra dalk ’n seer waarvan ons niks van weet nie. Die vriend wat stil geword het, gaan dalk deur iets wat hy of sy nie weet hoe om te verwoord nie. Die kollega wat geïrriteerd lyk, het dalk probleme by die huis. En die vreemdeling wat ons so maklik veroordeel, het dalk ’n hele lewe agter hom of haar wat ons nooit sal ken nie.

Ek sê maar net, miskien moet ons minder aannames maak en meer vrae vra.

“Is jy oukei?”

“Hoe voel jy regtig?”

“Kan ek iets doen?”

Dit klink eenvoudig, maar soms is dit presies wat iemand nodig het om te weet dat iemand bereid is om te luister.

Ek dink ook aan hoe ons met ons families en vriende kommunikeer. Ons kan ure lank op sosiale media bestee om ander mense se lewens dop te hou, maar ons sukkel om vyf minute lank met iemand langs ons te sit en ’n behoorlike gesprek te hê.

Ons stuur boodskappe wanneer ons kan praat. Ons gebruik emoji’s wanneer ons eintlik ons gevoelens moet verduidelik. Ons sê “ek is fine” wanneer ons eintlik nie fine is nie en dan verwag ons van ander om te weet wat binne-in ons aangaan. Hoe moet iemand verstaan wat ons voel as ons nooit bereid is om te praat nie? En hoe kan ons ander verstaan as ons nooit bereid is om te luister nie?

Luister is ook ’n vorm van liefde.

Om te luister beteken nie noodwendig dat ek met jou saamstem nie. Dit beteken net dat ek jou genoeg respekteer om jou kant van die storie te hoor. Ek kan steeds ’n ander mening hê, maar ek hoef jou nie af te breek omdat jy anders dink as ek nie.

Ons leef in ’n tyd waarin mense maklik verdeeld raak. Ons verskil oor politiek, geloof, geld, kultuur en selfs oor die kleinste dinge. Maar miskien is ons nie altyd so verskillend as wat ons dink nie. Miskien wil die meeste van ons maar net dieselfde dinge hê: Om gerespekteer te word, om gehoor te word en om te voel dat ons saak maak.

Daarom sê ek maar net, kom ons leer weer om te luister.

Kom ons luister na ons kinders voordat hulle ophou om met ons te praat. Kom ons luister na ons ouers voordat ons eendag wens ons het meer vrae gevra. Kom ons luister na ons vriende wanneer hulle sê hulle is nie oukei nie. Kom ons luister selfs na mense met wie ons verskil.

Soms is dit net om daar te wees, stil te bly en te sê: “Ek hoor jou.”

Miskien is dit tyd dat ons weer leer om na mekaar te luister.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer