Aldo Horn
Aldo Horn

Ons lyk simpel as ons sport kyk

Ek was nooit ’n groot aanhanger van sportuitsendings nie.

Wanneer ons by my oupa gekuier het as die Cheetahs speel, het ek maar op die bank gesit en aan die tjips en lekkers gepeusel terwyl my hele familie totaal en al in die rugbywedstryd verdiep was. In verwondering sou ek kyk hoe my oupa op die “ref” skree dat hy weer net die Cheetahs probeer “oorskroef”. (Skroef was nie die vloekwoord wat hy gebruik het nie.)

Dit was interessanter om te sien hoe my neef kwaad word vir die skopper wat reg voor die pale misskop as om die wedstryd te kyk. Dan sou my tannie hom nog aanja in sy ontevredenheid deur die speler se skopstatistieke vir die hele seisoen uit te wys.

Ek sou hierdie hele storie dophou en dink dit is eintlik simpel – hoe dom is dit om so opgewonde oor ’n wedstryd te raak waaroor jy geen beheer het nie? Wat dink hulle gaan hulle bereik deur so op die ref of die spelers te skree wat hulle nie eens kan hoor nie? Ek wil nooit so simpel lyk nie.

Dit is die gedagtes van ’n dertienjarige wat dink hy is beter as ander omdat hy nie “irrasioneel” opgewonde raak soos die res van sy gesin nie.

As ek hierdie gedrag met 100% eerlikheid oorweeg, kan dit meer akkuraat beskryf word as ’n dertienjarige wat nie verstaan hoe dit voel om passievol oor iets te wees nie.

Nou sit ek elke dag saam met vriende terwyl die wêreldkampioenskappe vir die rekenaarspeletjie League of Legends plaasvind. Nes my neef skree ek op die spelers wanneer hulle foute maak, of ek raak kwaad vir die kommentators wanneer hulle dinge sê waarmee ek nie saamstem nie.

Terwyl ons na die wedstryd kyk, is my een vriend besig om statistieke oor verskillende spelers of kampioene in die speletjie op te soek en dan is ek weer van voor af vurig vir die speler. Hoekom kies jy daardie karakter – dit wen net 20% van die tyd!

Die enigste ding wat ek vryspring, is om kwaad te word vir die ref, aangesien die spel so geprogrammeer is dat dit (amper) onmoontlik is om dinge te doen wat onwettig is.

Ek het geen idee wat met die Rugbywêreldbeker aangaan nie. Ek het dit probeer opsoek, maar ek is nie seker wat ek gevind het nie – my oupa sal my kan vertel wat daar gebeur het.

Wat ek wel weet, is dat my familie geen idee het wat met die League of Legends-kampioenskappe aangaan nie. Vir dié wat wil weet, die finaal vind op die oggend van 9 November plaas. Die span vir wie ek skree, het dit ongelukkig nie gemaak nie, maar moet nie dink ek gaan hierdie wedstryd misloop nie.

Nou verstaan ek hoekom my familie altyd so opgewonde is oor rugbywedstryde. As ek vandag sport saam met hulle kyk, vind ek dit nog steeds interessanter om hulle reaksies dop te hou as om die wedstryd self te kyk. Die enigste verskil is dat ek nie meer dink ek is beter omdat ek nie opgewonde raak nie, want ek weet ek lyk nes hulle. Ons stel dalk net in verskillende dinge belang.

Waarna ek die meeste uitsien, is die openingseremonie. Dis amper ’n hele konsert met musiek en dans terwyl die spelers op die verhoog stap.

My enigste kritiek op groot sportsoorte soos rugby en sokker is dat die openingseremonie vervelig is. Rugby-ondersteuners sal sê dat hulle net in die sport belangstel – wat ek ten volle glo – maar ek dink dat hulle uitmis.

– Gasskrywer

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-11-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer