Ons kan nou KI-rekenaarspeletjies speel

Sê maar net
Aldo Horn – Sê maar net
Sanet Pearson

Google het laas Donderdag Project Genie, sy nuwe kunsmatige intelligensie (KI)-model, aan die publiek bekend gestel. 

Hierdie model kan binne sekondes rekenaarspeletjies skep wat dan onmiddellik gereed is om te speel. 

“Speel” is dalk nie die regte woord nie. “Speletjie” is ook nie heeltemal korrek nie. En “skep” is eenvoudig net ’n leuen. 

Die akkurate opsomming van hierdie model is dat dit inerte wêrelde genereer (natuurlike deur plagiaat, maar dis reeds sinoniem met KI) waardeur jy kan loop. 

Dis dit. Daar is geen speletjie nie, daar is geen eindpunt nie, daar is geen interaksie nie. Daar is slegs ’n semi-leë area waardeur jy kan loop as jy kan ignoreer hoe traag die model reageer. O ja, daar is ook ’n limiet van 60 sekondes en ’n maandelikse koste van amper N$4 000.

Maak gou jou oë toe en verbeel jou jy loop deur jou huis. Daar is jou bed waarop jy nie kan lê nie. Dan stap jy in die gang af waar die vloer vir ’n sekonde uit ’n ander materiaal gemaak word voordat dit weer terugkeer na normaal. 

Die deur na die badkamer is toe en kan nie oopgemaak word nie, maar as jy by die kombuis kom waar die tafel en een van die stoele effens saamgesmelt is, kan jy sommer deur die toe venster stap. Jy reik uit na ’n blom wat buite gepl-. . . 60 sekondes is verby. Dis dit. 

Ek het jou so pas N$4 000 gespaar. 

Daar is geen manier dat ek opgewonde hieroor kan raak nie. Dis letterlik niks. Dis minder as nutteloos. 

“Dis nuwe tegnologie; dit gaan baie verbeter. Dis baie naby aan volledige speletjies maak,” sê die paar KI-entoesiaste wat nog nie opgehou lees het nie. 

Ja wel, dis wat ek nou al vir ses jaar lank van ChatGPT hoor en tot vandag toe is dit niks meer as ’n kletsbot wat kan jok nie. 

Natuurlik, om hierdie modelle te verbeter moet daar van honderde miljoene kunstenaars gesteel word, kiloliters en kiloliters water moet in die datasentrums vasgevang word en die elektrisiteitskostes van normale mense word verhoog sodat hulle namens die biljoenêrs die kostes kan dra. Danksy hierdie bekendstelling het die aandelewaarde van verskeie speletjiemaatskappye soos Roblox, Nintendo en vele ander gedaal – sommige met 20%. 

Dis nie omdat Genie die toekoms van rekenaarspeletjies is nie. Rekenaarspeletjies is kuns net soos boeke, films, en skilderye. Sonder ’n mens is dit waardeloos – hoekom sal ek die moeite doen om iets te speel wat niemand die moeite gedoen het om te maak nie? 

Nee, hierdie onrus in die mark is eenvoudig omdat aandeelhouers die woord KI gehoor het en dringend ’n “fix” vir hul dobbelverslawing op die aandelemark gekort het. 

Daar was ’n tyd wat die waarde van ’n maatskappy op die aandelemark verband gehou het met die waarde wat dit aan die samelewing bied. Daardie dae is verby. Vandag sit ons al ons geld op rooi en laat daai wiel draai.

My voorspelling is dat hierdie tegnologie nêrens heen gaan lei nie. Ek sal my skoene opeet as dit wel gebeur. Al wat dit gaan regkry, is om hierdie KI-borrel op die aandelemark al hoe groter op te blaas totdat dit bars. En wanneer dit bars en die ekonomie gevolglik in duie stort, sal dit almal se probleem wees. 

– Gasskrywer

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-03-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer