Ons is almal net mense
Ek wil weer bietjie teenoor die sleutelbordkrygers uitvaar.
Onlangs kry ek ’n boodskap van ’n onbekende nommer, en die persoon is vreeslik ongelukkig oor ’n artikel wat ek onlangs geskryf het.
Die artikel het gegaan oor ’n organisasie wat hul mening gelug het. Ek het al voorheen ’n artikel oor hierdie spesifieke kwessie geskryf. En enige joernalis wat sy of haar sout werd is, maak mos seker om al die kante van die storie te “cover”.
En dis presies wat ek gedoen het.
Ek wou eers nie reageer nie, want stilbly is ook ’n antwoord. Ek antwoord toe terug en stuur toe ook die skakel na my vorige storie.
Dit was ook nie goed genoeg nie, want sy sê toe sy het alles gelees en ek moet bietjie beter wees. Ek los dit toe daar, want wat kan ek nou anders sê?
Nie lank ná daardie boodskap nie, toe kom die boodskap deur: “Jammer, ek het toe nie daai een gelees nie.”
Being passive aggressive gee ek toe ’n duimpie. En los dit daar.
Ek is die tipe persoon wat nie van konfrontasie hou nie. Ek sal na iets vanuit elke behoorlike hoek kyk voordat ek enigiets sal sê.
Want ek redeneer net – ons is menslik. Ons maak foute. Miskien gaan jy deur iets en dan is ek net 'n goeie vertrekpunt.
Maar soms. Soms. Mense is net “ugh”.
Nog ’n voorbeeld: ’n Beïnvloeder op Facebook – sy maak kos- en grimeervideo’s, baie oulik, maar liewe leser, jy sal nie glo nie – iemand, ’n ander vrou, lewer kommentaar op haar video en sê koud vir haar: “Jy is irriterend.”
Wow.
Irriterend.
Jy kan letterlik verby scroll, of op die drie kolletjies gaan klik en sê, “not interested”. Maar nee, jy verkies om gif aanlyn te spuug.
Jy kan letterlik kies wat jou algoritme vir jou uitgooi.
En dit gebeur nie net op Facebook by beïnvloeders nie. Ek het onlangs self weer gesien hoe vinnig mense eerder wil kritiseer as help.
’n Kar word hier voor my huis deur die trein gestamp. Dis ’n Sondagaand, klaar gebad, in my pajamas, op pad bed toe. Hier hoor ons die slag.
Ek kyk toe by die venster uit en sien die trein staan stil. Ek gryp toe skoene, ’n baadjie en my foon en ek is by die deur uit.
Natuurlik, nog voor die polisie en die ambulans daar aangekom het, maak ek toe ook seker die ambulans is ontbied, of enigiemand seergekry het, en ná dit neem ek toe my video en plaas ’n nuusbreker op sosiale media.
Nou my brein het al hoeka afgeskakel, so ek hardloop nou op “autopilot”. Ek gaan maak toe die fout om “truck” te skryf en nie “train” nie.
I kid you not, ek het die nuusbreker oor en oor gelees om seker te maak alles is reg voordat ek dit geplaas het.
Eers later sien ek hoe almal hul koppe verloor het oor of dit nou ’n lorrie of ’n trein is.
My video het duidelik gewys dit is ’n trein.
Maar hoe kon ek so ’n fout maak? Hoe kon ek minder as mens wees en so ’n fout begaan?
Want dis duidelik dat ons nou ’n samelewing geword het wat liewer sy verstand verloor en lelike woorde sê as om iemand reg te help.
Nietemin, ek het toe later dit gaan regmaak – trein.
Ek kry vandag toe die geleentheid om iemand in ’n WhatsApp-groep reg te help. Die persoon het gevra vir sopkombuise op Walvisbaai.
Onmiddellik antwoord iemand anders en sê nee, sy dink nie daar is enige sopkombuise op Walvisbaai nie.
’n Heeltemal oningeligte reaksie.
Ek besluit toe nee – ek ken ’n hele paar en gaan kry toe skakels van die sopkombuise wat ek ken, kontaknommers, en deel toe ook die kerke s’n.
As ek nou ’n sleutelbordkryger was, kon ek mos nou ook lelik gewees het en iets snedigs gesê het. Of hoe?
Kom ons dink net bietjie twee keer en moenie so “ugh” wees nie.
Ons is almal net mense. Niemand is perfek nie!
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie