Ons het baie om voor dankbaar te wees
Onlangs, op pad om my kinders by die skool te gaan oplaai, het ek net weer eens besef ons het baie om voor dankbaar te wees.
Ek dink amper die gedagte het by my opgekom net knap nadat die spoedhobbels op die westelike verbypad geïnstalleer is. Hier in Walvisbaai is ons enigste kopseer om die menigte slaggate soos ’n Formula 1-renmotor te vermy.
Net Vrydagoggend was daar ’n effense verkeersvertraging op die pad na Dunes Mall toe, maar dit was omdat vragmotors na die weegbrug wou afdraai. Ons het seker net een of twee minute langer by die verkeerslig gewag, en dit was dit. Maar ek wil nou glad nie Windhoekers verkeerd opvryf of grootpraat oor ons verkeer nie. My punt met hierdie rubriek is dat dit BAIE maklik is om rondom jou te kyk en te sien wat NIE daar is nie, of dalk wat VERKEERD is.
Soos ek hier skryf, is daar gou vyf dinge wat ek kan noem wat verkeerd is, of waaroor ek kan kla.
Dis koud. My koffie is klaar. My foon is op 24%. Daar lê bondels wasgoed en wag vir my. Ek maak Facebook oop en daar is weer slegte nuus op my “feed”. Die bankkaart is diep in die laai gebêre, want die “pay” het dit net tot gister gemaak.
Soos julle kan sien, is daar BAIE om oor te kla. MAAR daar is ook baie om voor dankbaar te wees.
Ek het ’n dak oor my kop. My baba lê en slaap nou snoesig warm op die bed, onder ’n warm kombers. Ek kan nou instap in die kombuis, die ketel aansit en vir myself ’n koppie melkkoffie gaan maak.
My rekeninge is betaal. Ek het op ’n wonderlike bladsy op Facebook afgekom wat my laat skaterlag. My kinders is in die skool. Hulle het brood en appels gehad om vandag skool toe te vat. Ek en my familie is gesond en ons is in die tweede helfte van 2026.
Nog elke dag betoon die Here sy genade aan elkeen van ons wat hier lees. Wanneer ons na die wêreld kyk en wat alles gebeur, is ek selfs dankbaar vir ons eie kwessies wat ons moet trotseer.
Ek moet byvoeg: Dankbaarheid beteken nie dat ons ons probleme ignoreer nie. Dit beteken bloot dat ons nie toelaat dat ons probleme al ons aandag in beslag neem nie. Wanneer ons fokus op dit wat ons wel het, ontdek ons nuwe moed om die uitdagings van môre aan te pak; om die uitdagings van nou aan te pak.
Ek voel ’n dankbare hart bring perspektief, hoop en vrede, ten spyte van wat rondom ons gebeur.
Miskien is dit tyd dat ons minder kla en meer waardeer.
Minder vergelyk en meer geniet.
Minder fokus op wat ontbreek en meer op wat reeds in ons lewens teenwoordig is.
Ons hoef nie ver te soek vir redes tot dankbaarheid nie – kom ons kyk net bietjie rond. Dit is oral rondom ons.
En my eerste taak is om hierdie rubriek mooi uit te knip en hier voor my teen die muur te plak, om my voortdurend te herinner ek moet net bietjie rondkyk; daar is baie om voor dankbaar te wees.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie