Aurelia Afrikaner
Aurelia Afrikaner

Ons gooi weg, ander gaan soek lewe daarin

Sê maar net
Aurelia Afrikaner

Aurelia Afrikaner – Dis nogal interessant hoe sommige van ons so maklik oor die kleinste ongerief kan kla. 

Die Wi-Fi is stadig, die koffie is koud, die salaris is nie genoeg vir nog ’n paar skoene nie, of die nuwe selfoonmodel lyk darem net mooier as die een wat jy ses maande gelede gekoop het. Tragies, regtig.

Terwyl dit gebeur, is daar families wat hul dag begin waar baie van ons nie eens vir vyf minute wil vertoef nie – by die stortingsterrein. Ja, daardie plek waar ons ons “probleme” in swartsakke toemaak en weggooi.

Kinders loop tussen hope afval asof dit ’n speelgrond is wat niemand ooit vir hulle sou toewens nie. Klein handjies grawe deur vrot kos, plastiek, glas en rook op soek na iets wat geld kan maak of dalk net iets wat nog geëet kan word. 

Vir ander is ’n stortingsterrein besaai met vuilgoed; vir hulle is dit werk, inkomste en soms die enigste hoop vir die dag.

En tog is dit amper ironies hoe die mense wat die minste het, dikwels die meeste planne beraam. Hulle herwin meer as wat baie van ons ooit sal doen.

Hulle verstaan die waarde van ’n leë blikkie beter as iemand wat ’n halfvol bord kos in die asblik gooi omdat dit nie meer “lekker lyk” nie.

Ons hou daarvan om te praat oor ’n beter wêreld, ’n skoner omgewing en volhoubaarheid. Groot woorde.

Mooier nog op konferensies en Facebookplasings. 

Maar die werklikheid is dat die herwinningsekonomie in baie gevalle op die rug van arm mense ry, mense wat hul gesondheid vir ons gemak opoffer. Want kom ons wees eerlik: Daar is niks normaal daaraan dat kinders hul skoolvakansie in ’n vullishoop deurbring nie. Daar is niks normaal daaraan dat families in giftige rook sit, tussen vlieë en verrotting, net om iets te kry om te verkoop of huis toe te vat nie.

Maar moenie bekommerd wees nie, ons gaan môre weer kwaad wees omdat ’n kragonderbreking ons planne ontwrig het of omdat die “drive-thru”-bestelling verkeerd was.

Dit beteken nie ’n mens mag nie beter wil hê nie. Natuurlik mag ons droom en na beter streef. Maar dalk moet ons soms net stilstaan en vra: Waardeer ek werklik wat ek reeds het?

Sommige mense leef letterlik van wat ons weggooi en ons is steeds nie tevrede met wat reeds op ons tafel is nie.

Ek sê maar net: Miskien moet ons minder fokus op wat ons dink ons ​​kortkom en meer besef hoeveel ander mense probeer oorleef met wat ons weggooi sonder om eers daaroor te dink.

Soms is iemand anders se nood net een swartsak weg van ons gemak af.


[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-09-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer