Adam Hartman
Adam Hartman

Ons almal ry die pad

Adam Hartman
Dis vroegoggend, nog voor dagbreek. Ek en my vrou besluit om te gaan stap. Dis winter, en die donker hou langer vas as wat ’n mens wil erken. Maar daar was iets sag in die stilte van daardie oggend – die see wes van ons was kalm, die pad voor ons reguit en tussen die duine aan die oostekant het die eerste kleurstrepe van die son begin deurbreek.

Ons het langs die kuslyn tussen Vierkantklip en Langstrand gestap – ’n stuk kus wat branderplankryers as “die paradys” beskryf. En ja, dit het soos ’n soort paradys gevoel. Die geselskap van my vrou, net om daar te wees en te dink aan die nuwe dag en aan die lewe. Alles rustig.

Totdat ons oos kyk – na die B2-pad tussen Swakopmund en Walvisbaai. Daar, net voor die Namib-duinegordel, beweeg lyne van ligte in beide rigtings. Motors, een na die ander. Dit het soos ’n trein gelyk – ’n ligkaravaan.

In die oggend-helderheid en teen die agtergrond van ’n wakker wordende wêreld, het hierdie string ligte ’n vreemde skoonheid gehad.

Maar toe tref dit ons: elkeen van daardie liggies is ’n lewe. ’n Mens. Iemand op pad werk toe. Iemand wat dalk nie lus vir vandag is nie. Iemand wat dalk hoop dra, of vrees. Iemand wat wag vir iets om te verander. Elke voertuig wat verbybeweeg, bevat iemand se storie – ’n verhaal wat net hy of sy ken.

En dis toe dat die B2 nie meer net ’n pad is nie. Dit word die lewe self.

Sommige jaag – verby almal, ongeduldig, dalk selfs roekeloos. Hulle druk verby op plekke waar dit gevaarlik is, hulle jaag teen die risiko van hul eie en ander se veiligheid. Ander ry weer stadig, versigtig – so versigtig dat hulle die vloei van almal agter hulle belemmer. Sommige bly net in die ry, een agter die ander, sonder haas, sonder rusie, net in ritme – amper soos die lewe behoort te wees. ’n Vloei.

Soms gebeur daar iets op die pad – ’n ongeluk, ’n sandbank wat getref word, ’n band wat bars, ’n padblokkade. Dis ook die lewe. Dit gebeur skielik. ’n Mens moet oplet, gereed wees, aanpas. Soms is daar padwerke – vertragings wat ons nie kon beplan het nie. Soms is daar wetstoepassers wat kyk of jy behoorlik bestuur. Dis ook deel van die groter prentjie.

En daar staan ons, voetslaan teen die seebries, en kyk hoe die lewe verbyry. Ons is vir ’n oomblik buite dit – buite die “rat-race”, buite die roetine. Maar ons weet, ons sal weer inskuif. Ons sal weer moet ry – letterlik en figuurlik. Ons sal ook weer deel van die stroom wees, met al sy verskillende ritmes, gevare, oomblikke van stilstand, van beweging, van voor en agter.

Soms sal jy moet lei, soms sal jy volg. Soms hou jy die pas. Soms is dit veilig om in te haal. Soms is dit beter om net stil te bly. Maar in al daardie oomblikke bly een ding konstant: elke mens op daardie pad is op reis. En elke reis het ’n betekenis, selfs al word dit net vir ’n oomblik sigbaar, voordat dit agter die volgende heuwel verdwyn.

En soos die motors een vir een verby ons beweeg het, het ek besef: Ek sien lig, ek sien die pad, maar ek sien ook stories. Lewe. Menswees. En ek bid stilweg dat ek altyd sal onthou – nie net van my eie reis nie, maar van die van ander ook. – [email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer