No Image Caption

Onderwysrubriek – Toegewysde tyd

Verlede week het ek die gesprek oor skooltyd begin. As inleiding tot die gesprek het ek kortliks verwys na John B. Carrol wat onderskei tussen tydfaktore wat bepalend is vir die doeltreffende bemeestering van leertake.

Tweedens, het ek gewys op die verskillende opvoedkundige tydtipes. Hierdie deel van die bespreking het gegaan oor die drie tipes toegewysde tyd.

Die vierde tipe toegewysde tyd wat ons onderskei, is tyd-aan-taak (time-on-task). Dit is die werklike tyd wat leerders aan leertake bestee en sluit afleidende gedrag en dagdrome uit. Hoe meer tyd leerders aktief aan leertake bestee, en hoe getrouer hulle by hul leerskedules hou, hoe beter sal hulle vaar. Dissipline is egter nie al vereiste nie, dit hang ook af van die mate wat invloede van buite leerders gaan toelaat om by hul skedules te hou.

Leerders het dus die begrip en ondersteuning van onderwysers, ouers en ander persone in die huishouding nodig. Ons lees en hoor baie stories hoe besorgde ouers hul kinders ondersteun en aanspoor in hul voorbereiding in die aanloop tot en gedurende eksamens. Vir baie ouers is dit ’n stresvolle tyd; maar hulle hou vol met die ondersteuning, praat moed in en dra die koekies, koffie en vitamienpilletjies aan. Maar, gelykheid is nie ’n kenmerk van ons opset nie; baie ouers het nie die vermoë of tyd om daai tipe ondersteuning te gee nie. In die meeste gevalle is leerders op hulself aangewese.

Die volgende tydtipe is akademiese leertyd. Dis die tyd wat leerders bestee aan leertake wat van ’n toepaslike moeilikheidsgraad vir hulle is en waar hulle baie hoë vlakke van sukses kan beleef. Mens moet dit onderskei van leertake wat hulle maklik kan bemeester en ander wat bo hul vuurmaakplek is.

Dit kan soos volg verduidelik word. Leerders vind sommige leertake maklik en bestee nie baie tyd daaraan nie. Deur die leerinhoude net vlugtig deur te gaan, wen hulle eintlik tyd om aan die moeiliker leerinhoude te spandeer. Dan is daar die leerinhoude waarvan die moeilikheidsgraad ver bo hul vuurmaakplek is en gevolglik spandeer hulle ook nie veel tyd daaraan nie.

Leerders se houding is,”Ek sal dit in elk geval nie verstaan of onder die knie kry nie”. In hierdie argument skuil baie belangrike implikasies vir die onderwyser. Die onderwyser behoort die leerinhoude waarmee die leerders sukkel, of die moeilikheidsgraad te hoog is, te identifiseer en ekstra onderrigtyd daaraan te wy. Die bykomende leertyd kan met die leerders en ouers ooreengekom word; dit is veral die klasse na skool wat waarde kan toevoeg.

Laastens is daar die tipe tyd waaroor skoolhoofde, inspekteurs en vakadviseurs en selfs leerders boekdele oor kan skryf. Dit is dooietyd! Dit is die tyd wanneer daar absoluut niks plaasvind nie. Die onderwyser is besig met administratiewe take, merkwerk of voorbereiding vir die volgende dag; of doen eenvoudig niks.

Toe ek klein was, het my ma die gewoonte gehad dat ek haar “kop moes soek”; dit het haar glo vaak en slaperig gemaak. Nodeloos om te sê dit het my van waardevolle speeltyd beroof. En, bewaar my siel as ek probeer wegglip het voordat sy behoorlik aan die slaap was.

Hier in die suide van Namibië het ek kom leer dat kinders juffrou se kop deur klastyd moes soek of krap. Ek het dit persoonlik tydens ’n besoek aan een skool gesien; teen daai tyd was juffrou al vas aan die slaap. Nou die ander dag het ek verneem een onderwyser het sy klas sonder toesig gelaat en koshuis toe geglip ; sonder die skoolhoof se toestemming.

Carrol se beskouing van die opvoedkundige tydsfaktore hou natuurlik belangrike implikasies vir onderrig in.

Eerstens, bevestig dit die uniekheid van elke leerder. Die aangebore vermoë, vaardighede en volharding is uniek aan elke leerder. Leerders leer op verskillende wyses, hulle verstaan van die leerinhoude is uniek en almal beskik nie oor dieselfde volharding en uithouvermoë nie.

Dit bring ons by die besef en belangrikheid van leerdergerigte en inklusiewe onderrig (learner centered and inclusive teaching). Die tydsfaktor van geleentheid beklemtoon die verskillende agtergronde van leerders en dat almal nie oor die optimum omstandighede beskik om te leer nie.

En, laastens, juis as gevolg van hierdie uniekheid en verskille in geleenthede, behoort die onderwyser se onderrig van so ’n aard te wees dat die minimum leertyd vir leerders nodig is om leerinhoude te bemeester.

Toegewysde tyd (natuurlik dooietyd uitgesluit) kan beskou word as statutêre skooltyd omdat dit deur die Grondwet, onderwyswet, onderwysregulasies en ander belangrike afdwingbare voorskrifte gepaal word. Dit is die tyd waarvoor die onderwyser opgelei, in diens geneem en betaal word. Dit is die tyd waarvoor die staat die geld wat dit van belastingbetalers eis, aanwend om die land se onderwysdoelwitte te bewaarheid.

Wat sê die unies:”Teachers teach, learners learn.”

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer