Onderwys – Windhoek Hoërskool vs Ministerie van onderwys
Daar is ’n interessante regstryd in Windhoek aan die gang; enig in sy soort. Windhoek Hoërskool spreek die ministerie van onderwys in die hof aan oor die aanstelling van die nuwe skoolhoof waarmee hulle nie gelukkig is nie.
Die skoolraad eis dat die aanstelling van hierdie kandidaat hersien en tersyde gestel moet word. Duidelik is die “suksesvolle” kandidaat nie die skoolraad se keuse nie. Ongelukkig beskik die skoolraad nie oor die regsbevoegdheid om die hof in so ’n geval te nader nie. Artikel 42 van die Onderwyswet van 2020 maak dit duidelik dat ’n staatskool nie ’n regspersoon is nie en derhalwe nie staanplek (locus standi) as eiser of verweerder het nie.
Die Engels stel dit treffend, “a school cannot sue or be sued in a court of law”. Alhoewel die onderwyswet die skool locus standi ontsê, behoort die skool se deelname aan die werwings- en aanstellingsprosesse nie sonder betekenis te wees nie. Die skoolraad se deelname moet juis betekenisvol wees sodat die ideaal van artikel 50(a) (inklusiewe kwaliteitonderwys) kan realiseer. Hierdie deelname word verder geaksentueer deur artikel 50(i) ingevolge waarvan die skoolraad die streekdirekteur moet adviseer oor en assisteer met die werwings en aanstellingsprosesse. Die skoolraad se deelname kan dus nooit sonder betekenis wees nie!
’n Skool se hande is ook nie heeltemal afgekap nie. Ek vermoed dat indien ’n skool ’n trust skep, kan die trustees namens die skool litigeer. Verder kan ’n persoon of persone wat ’n wesenlike belang in ’n skool het, die hof namens die skool nader. Hierdie is maar ’n vermoede van my en dit lyk nie of dit haalbaar sal wees vir baie van ons skole in armer gemeenskappe nie.
Die argumente van die verteenwoordiger van die ministerie maak ook nie vir my lekker sin nie. In sy respons op die versoek dat bykomende dokumente geopenbaar moet word, sê hy dat agt van die 21 kandidate se aansoeke nie opgespoor kan word nie. Verder voer hy aan dat die aanstelling al in 2024 afgesluit is en dat dokumente nie onbepaald gehou kan word nie.
Openbare dokumente moet beslis vir langer periodes bewaar word omdat besluite, soos in hierdie geval, agterna bevraagteken kan word. Verder, ons het definitief nie meer enorme ruimtes nodig om dokumente te stoor nie; ons leef in die digitale era. Dokumente word deesdae geskandeer en op rekenaars gestoor. Basiese persoonlike inligting van die kandidate en dié oor hul kwalifikasies, ervaring en diensgeskiedenis, moet onmiddellik beskikbaar wees. Daar mag nie sprake van “opsporing” wees nie; klink so na ’n soektog.
Dis belangrik om weer daarop te wys dat die skoolraad nie tevrede met die telling was wat die keuse van die ministerie in die onderhoud behaal het nie.
Daar is twee vrae wat hinder. Eerstens, as die keuse van die ministerie 61,2% in die onderhoud gekry het, wat was die hoogste telling wat behaal is? En tweedens, hoe kan dit van die skoolraad verwag word om met die aangewese prinsipaal saam te werk as daar op hierdie stadium reeds geen sprake van vertroue is nie?
Die feit dat die skool hom tot die hof gewend het, gee my ook die indruk dat daar nie tyd en geleentheid gegun is om al die kwessies rondom die aanstelling uit te klaar nie.
Dit wil ook voorkom, as mens die verslae in die koerant en op die internet lees, dat die skoolraad ook nie deeglik oor artikel 42 en ander relevante artikels van die onderwyswet ingelig is nie. As al die inligting en afleidings hierbo genoem korrek is, was die skoolraad nie ten volle en bevredigend ingelig oor sy regsbevoegdheid toe die besluit geneem is om die hof te nader nie.
Ek het al in een van my rubrieke genoem dat hierdie leemte gevul kan word deur die aanstelling van ’n ad hoc-lid in terme van artikel 53 (6) van die Onderwyswet. So ’n aanstelling sal die behoefte aan inligting en leiding oorbrug. Waarom streekdirekteure nie daarop aandring nie, gaan my verstand te bowe.
Hierdie hele gebeurtenis herinner my aan ’n aanstelling van ’n departementshoof by ’n skool wat jare terug gedoen is in teenstelling met die aanbeveling van die skoolraad. Veel is gemaak oor regstellende aksie terwyl meriete agterweë gelaat is. Dit vraag is, hoe dien ons kwaliteitonderwys met sulke besluite?
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie