Onderwys – Waar is al die kinders heen?
Sedert die aanvang van hierdie reeks is heelwat tyd aan die reg van elke kind tot onderwys bestee.
Uit die howe is dit duidelik dat ’n kind nie sonder grondige redes uit die skool geweer mag word nie. Dit is gevestigde reg (settled law)!
In Plyler v Doe (VSA, 1982) en Centre for Child Law v Minister of Basic Education (RSA, 2014) het die howe onomwonde verklaar die reg op onderwyser is ipso facto van toepassing op ongedokumenteerde immigrante-kinders.
Die Tsjeggiese Konstitusionele Hof het in 2023 die belangrikheid van inklusiwiteit van onderwys beklemtoon deur die uitsluiting van ’n outistiese kind af te weer.
In Minister of Basic Education v Basic Education for All (RSA, 2016) is die onderwysministerie verplig om skole van handboeke te voorsien. Dit is gesien as ’n onlosmaaklike deel van die kind se reg tot gratis basiese onderwys.
In die saak van Tiffen v Cilliers (1935 O.P.D 23) het dit gegaan oor ’n pa wat geweier het dat sy kind lyfstraf kry. Die skool het geweier om die kind langer toe te laat. Die hof het bevind dit was onregmatig aangesien daar geen regverdige gronde vir so ’n stap was nie. Die besluit het neergekom op ’n aantasting van die kind se liggaamlike vryheid, status of menswaardigheid; in regstaal ’n delik.
Die streekdirekteur van ||Kharas se onlangse toespraak het onder meer gegaan oor die kinders wat, nadat hulle tot graad 1 toegelaat is, oor ’n paar jaar daarna die skool voortydig verlaat. Volgens hom is hulle “onopspoorbaar”. Eerstens die direkteur maak ’n fout deur hierdie leerders almal as “dropouts” en “onopspoorbaar” te beskou. Hierdie leerders, waarna hy verwys het, is diegene wat voortydig (dropouts) die skool verlaat, leerders wat na ander streke verhuis en by ander skole aansluit, leerders wat jonk sterf, leerders wat geskors is weens een of ander ernstige oortreding en leerders wat na Namcol verwys word weens ’n te hoë ouderdom. “Dropouts” is die somtotaal van “pullouts, pushouts and walkouts”. Leerders loop uit die skool omdat hulle moeg is vir skool- en klaskamerpraktyke wat hulle nie aanstaan nie, word uit die skool gestoot deur onderwysers en skoolhoofde en word uit die skool getrek deur ouers en maters wat reeds die skool verlaat het. Hierdie is ongelukkig die groter kohort van hulle wat die skool voortydig verlaat. Maar, om so ’n kommerwekkende aankondiging te maak sonder ’n duidelike regstellende strategie, beteken nie veel nie.
Eerstens, die streekdirekteur net soos die skoolhoof, het die grondwetlike verantwoordelikheid om toe te sien dat leerders vir so lank as moontlik in die skool bly.
Eerstens doen die skoolhoof dit deur in samewerking met sy personeel ’n gedragskode vir leerders op te stel wat onderrig en leer bevorder. Tweedens, moet hy en sy personeel sorg dat die leerders se algemene welstand, sover dit in hul vermoë is, verseker word.
Derdens moet die strewe wees om kwaliteitonderwys na al die hoër vlakke te neem deur onderrigleiding (instructional leadership) en professionalisering van die personeel. Laastens, skryf die wet duidelik voor hoe daar met swanger skoolmeisies gehandel moet word sodat hulle voor en ná die bevalling so lank as moontlik in die skool bly. Vaardigheidonderwysers word spesifiek vir hierdie doel aangestel en dit is die skoolhoof se verantwoordelikheid om seker te maak dat hulle goed aangewend word. Al hierdie mandate vind onder die toesig van die streekdirekteur plaas.
En, wat my die meeste pla is die direkteur se uitlating dat voortydige skoolverlating nie alleenlik onderwys se verantwoordelikheid is nie, maar ook die hele gemeenskap s’n. Hy is heeltemal reg, maar om die gemeenskap op sy verantwoordelikheid te wys, help nie veel as die gemeenskapstrukture wat spesiaal vir onderwys geskep is, nie doeltreffend aangewend word nie. Hier word spesifiek verwys na die streekonderwysforum. Hierdie liggaam is spesifiek in die lewe geroep om die belang van die gemeenskap te verteenwoordig en te bevorder. Die wetlike bevoegdhede van die streekfora is om plaaslike en streekowerhede oor onderwysaangeleenthede te adviseer, om onderwyswetgewing en -beleid te evalueer en die minister te adviseer en laastens die samewerking van belangegroepe te koördineer.
En, ek bepleit al lank dat oudonderwysers en afgetrede onderwysadministrateurs ad hoc-posisies op skoolrade en die fora beklee. Verder, daar staan niks in die weg van die direkteur om die stigting van ’n forum bestaande uit verteenwoordigers van die polisie, welsyn, predikante en ander kundiges te inisieër nie. Die direkteur het geensins nodig om hulp in die gemeeenskap te soek nie. Die strukture en individue bestaan en skree om aangewend te word!
Ek wil graag die boek Savage Inequalities (1991) van Jonathan Kozol aanbeveel. Kozol skryf oor soortgelyke sosiale probleme in die Amerikaanse onderwysstelsel. Hy haal een leerder aan wat die volgende opgemerk het. “America the beautiful. Who are you beautiful for?” Ons kan seker dieselfde vra?
(Hierdie week se rubriek dra ek op aan my vriend George Roux wie ons Saterdag gegroet het).
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie