• Tuisblad
  • Rubrieke
  • Onderwys – Voortydige skoolverlating (dropouts). Is ons beleide besig om te faal?
Godfrey Kleinhans
Godfrey Kleinhans

Onderwys – Voortydige skoolverlating (dropouts). Is ons beleide besig om te faal?

Godfrey Kleinhans

Die berig oor voortydige skoolverlating (dropouts) deur die joernalis Nikanor Nangolo van Network Media Hub, het my opnuut geïnspireer om die verskynsel te bekyk. 

In my kolom in 2023 het ek veral op die definisie van die verskynsel gefokus asook op die nadelig impak daarvan. Toe het ek ook daarop gewys dat voortydige skoolverlating blyk die somtotaal te wees van leerlinge wat uit die stelsel: 

– getrek word (pull-outs),

– gestoot word (push-outs), en

– eenvoudig besluit om te loop (walk-outs).

Nangolo het ook oor die meer onmiddellike bepalers van voortydige skoolverlating uitgewei soos deur Knox Imbuwa, Sanet Steenkamp en Edda Bohn geartikuleer. Dié bepalers word juis afgelei uit die drie breë kategorieë hierbo genoem. 

Hierdie keer is my belangstelling geprikkel deur die vraag of daar met die verskillende beleide en strategieë wat oor die jare geloods is, enige vordering gemaak is. Oënskynlik het dit nie gebeur nie; talle van ons jong kinders beland nog steeds gereeld op straat terwyl baie van ons jong ma’s eerder verkies om babas tuis groot te maak. En, misdaad onder die jeug floreer steeds. 

Die statistieke oor die jare vertel maar ’n sombere verhaal. Die gemiddelde leerlingpopulasie groei sedert 2017 teen ’n koers van iets in die omgewing van 3%, terwyl die uitvalkoers met 5,8% oor dieselfde tydperk gegroei het. 

Ná 2017 het laasgenoemde begin afplat, maar met ’n “te wagte” styging in 2020 gedurende Covid. Die aantal leerlinge wat die skool in 2020 verlaat het, is amper twee keer soveel as die verlaters van 2019. Gelukkig het dit weer in 2021 begin terugsak. Met die uitsluiting van 2020 lyk dit darem nie asof die jaarlikse koerse te veel verskil nie, alhoewel die persentasies nie altyd bemoedigend is nie. Wat mens wel bekommerd maak, is dat daar nie ’n duidelike afwaartse tendens is nie.

Tienerswangerskappe maak ook ’n groot deel van die jaarlikse uitvalkoers uit. In 2023 was die leerlinginname van Kavango-Oos 74 488 terwyl 1 961 (2,63%) die skool voortydig verlaat het en 259 (13,2%) van hierdie groep swanger was.

In die buurstreek was daar 46 576 leerlinge en 1 804 (3,8%) skoolverlaters waarvan 206 (11,4%) swanger was. Dit skets beslis nie ’n baie mooi prentjie nie.

Iemand het op ’n keer gesê, “Policy is en policy does”. Beleid dui dus aan wat gedoen moet word, deur wie, hoe en wanneer. Suksesvolle beleidsimplementering vereis ook doeltreffende beleidsformulering en ’n hoë vlak van gedrewenheid. Miskien is dit tyd dat die beleid rakende skoolverlating weer eens deeglik onder die loep kom en dat die toesighouding van die implementering op skoolvlak, uitgebrei word.

Tweedens, leerlinge verlaat ook die skool vanweë skoolboelies, swak en afknouerige onderwysers en algemene swak skoolbestuur. Hulle is die sogenaamde “walkouts”. Miskien is dit weer tyd dat skoolhoofde en onderwysers hul verantwoordelikhede in terme van die in loco parentis-leerstuk moet belig en met groter dringendheid nakom.

Laastens behoort die uitbreiding van onderrigleiding (instructional leadership) en die dringende implementering daarvan, ’n wesenlike verskil te maak.

En, soms vergeet ons die waarde van ’n gesonde verhouding met ons skoolouers. 

Hiervoor laat ek u met die woorde van Walter Edwin Williams: “For somebody to do well in school, somebody needs to make him/her go to bed on time to get a good 10hrs sleep. Somebody must make him/her do his/her homework. Somebody must feed him/her breakfast in the morning and somebody must make him/her mind the teacher. If these things are not done, I don’t care how much money you put in the school system, education will not occur.” 

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer