Onderwys – Verbeteringsplanne vir skole
Die meeste van ons skole het weer eens power in die 2025 finale eksamens gevaar.
Die Suide het soos gewoonlik maar weer die “agterhoede” gedek. Hulle “cover” so daaragter dat dit moeilik vir ander streke is om daai posisies in te neem. En, soos gewoonlik, is die prestasies van die presterende skole weer aan die groot klok gehang.
Daar is weer, soos gewoonlik, ontledings gedoen om die swak en onderpresterende skole aan te moedig om beter te doen. En, gewoonlik word hierdie goed wyd verkondig en in die nuusblaaie uitgebasuin en sommige gemeenskapsleiers, politici en sakelui beskou dit as die ideale geleentheid om hul status ’n hupstootjie te gee. En, wanneer die jaareindeksamens se uitslae bekend gemaak word, wonder ek of al die beplanning, en natuurlik die gepaardgaande kostes, die moeite werd was. Herinner my so aan “Blown in the wind” van Bob Dylan.
Die uitslae van die IGCSE- en AS-eksamens van Gimnasium het, soos ek in die nuusblaaie lees, nie aan die verwagtinge voldoen nie. Die bestuur van Gimnasium se respons het my werklik beïndruk. ’n Interne ondersoek is onmiddellik gelas en daar is op ’n reeks strategieë besluit wat vermoedelik ’n soortgelyke situasie sal verhoed.
Die belanghebbendes (stakeholders) is hierby betrek en die plan is in die nuusblaaie gerapporteer. Kortliks kom dit daarop neer dat leerlinge vroeër met die IGCSE-eksamens sal begin om meer tyd vir voorbereiding vir die AS-vlakke te bied.
Verder sal bykomende ondersteuning vir wiskunde, fisika, chemie en Engels gereël word. Daar sal verwag word dat graad 12 tot laat middag by die skool sal bly; besig met studie onder toesig.
Dit is baie belangrik om daarop te let dat die program nie net gemik is op die graad 12-leerlinge nie, dit neem reeds aanvang in graad 8. Die bestuur wil hiermee seker maak dat hierdie leerlinge goed voorbereid is wanneer hulle na ’n paar jaar in graad 12 is. Die sentrale temas van die plan, soos dit vir my lyk, is fokus en die doeltreffende aanwending van onderrigtyd.
Terug na die staatskole! Ek is die ene ore om te hoor of daar streke of skole is wat al aan soortgelyke verbeteringsplanne gewerk het. Ek is ook nie seker of van ons skole en/of streke in staat is om met ’n totale plan, wat alle bestuursareas teiken, vorendag te kom nie. Verder, is dit algemeen bekend dat die leerlinge eerste in die spervuur beland wanneer skole nie na wense presteer nie.
In die lig hiervan dink ek nie dat dit voorbarig van my sal wees om voor te stel dat skole en streke begin dink aan ’n reeks ingrypings wat leerlinge se gedrag en gewoontes positief sal beïnvloed nie. So ’n plan behoort eerstens ruimte vir die opgradering van akademiese ondersteuning vir leerlinge te skep. Geleenthede behoort geskep te word vir addisionele onderrig, veral vir moeilike leerinhoude en studiegeleenthede na normale skoolure.
Tweedens kan daar met leerling-gesentreerde onderrig seker gemaak word dat geen leerling agtergelaat word nie. Derdens moet dit duidelik aan leerlinge gestel word dat afwesigheid nie ligtelik aanvaar sal word nie en die afwesigheid tydens lesure en laatkommery nie geduld sal word nie. Oortreding, veral in hierdie gevalle, moet gevolge hê.
Vierdens, moet tuiswerkopdragte op ’n gereelde grondslag gegee word en daarop aangedring word dat leerlinge dit stiptelik vir nasorg indien. Individuele en groeptake moet ingelyks op die voorgeskrewe tye ingedien word.
In die vyfde plek moet daar fyn gelet word op die voorkoms en algemene gedrag van leerlinge. Vir die nie-nakoming van skoolreëls behoort daar geen verskoning te wees nie. Zero-toleransie behoort die wagwoord te wees.
Maar, al hierdie strategieë en alle wonderlike planne om leerling-prestasie positief te beïnvloed, beteken niks sonder die algehele medewerking en betrokkenheid van die opvoeders en ouers nie. Dit is die taak van die skoolbestuur om seker te maak dat die onderwysers getrou by hierdie ondernemings bly en dat ouers goed ingelig word. Staatskole kan gerus ’n bladsy uit die boek van Gimnasium neem.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie