No Image Caption

Onderwys – Skoolbestuur en aanspreeklikheid

In haar jongste rubriek huldig Annemarie Schullenbach die mening “niemand is nié ’n leier nie”.

Leierskap word nie gemeet aan hoe groot ’n persoon se salaris en gepaardgaande voordele is nie. Ook nie hoe groot en gepoleerd sy raadsaal is en die witboordjie en “power suits” wat hy dra nie. Ook nie hoe streng hy kan wees nie.

Hierdie “aanhangsels” het niks met leierskap uit te waai nie. Maar aldus Schullenbach beskik alle mense in ’n mindere of meerdere mate oor sekere leierskapeienskappe. Dit is die vermoë om saam met andere te werk, om andere positief te beïnvloed, om andere tot diens te wees en om andere tot diens aan te spoor. En, om sonder ’n sweem van verwaandheid in hom/haar te glo. Soms wonder ek hoe ernstig ons hierdie eienskappe opneem wanneer ons die aansoeke van kandidate vir skoolhoofposte evalueer en onderhoude met hulle voer. Ek dink ek het al in ’n vorige rubriek hieroor gewonder; ek was nie juis opgewonde oor my eie gevolgtrekking nie.

Hoe kom hierdie eienskappe, wat volgens Schullenbach in elke persoon verskuil is, in kandidate na vore? As leierskap die weg vir skole na uitnemendheid toe moet baan, hoe diep moet hierdie eienskappe dan verskuil wees, aangesien ’n mens min daarvan in die prestasies van baie skole sien. Daar is egter een eienskap wat Schullenbach nie pertinent noem nie, en dit is aanspreeklikheid.

In die spotprent van 11 Desember se koerant haal die tekenaar die voormalige minister van finansies, Iipumbu Shiimi aan, wat van mening is dat ’n gebrek aan aanspreeklikheid ontwikkeling in hierdie land kniehalter.

Diegene van ons wat in die laat sestigs en vroeg sewentigs begin werk het, sal weet dat die bestuurder, voorman of skoolhoof weinig in die gerig gekom het oor lae produksie of swak skoolprestasies. Gewone werkers is vervang, onderwysers het D-verslae gekry en die gebrek aan ouerbetrokkenheid moes die grootste skuld vir swak skoolprestasies dra. Aanspreeklikheid het in die moderne bestuurkonteks die kerneienskap van leierskap geword.

Nou wat is aanspreeklikheid binne die konteks van skoolbestuur presies? Skole is besige plekke met ’n magdom van amptelike en nie-amptelike aktiwiteite. Die omvang van besluitneming is omvangryk en uiteenlopend. Besluitneming is kollektief (of so behoort dit te wees), maar aan die einde van die dag ontvang die skoolhoof die erkenning as dit suksesvol is of word die mislukkings voor sy deur gelê.

Dit is hier waar die ware leiers van die middelmatiges en kansvatters onderskei word. Ware leiers sal die suksesse met hul kollegas deel en eienaarskap van die mislukkings neem. Dit is die “mea culpa”-oomblik.

Ons is nou in die nuwe jaar, die uitslae is “uit” en dit is ook die ideale tyd om oudits van skole se prestasies te doen. Waar skole nie na behore presteer nie, sal skoolhoofde wat aanspreeklikheid hiervoor aanvaar, onbevange kyk waar veral besluitnemingsfoute gemaak is.

Ware leiers sal nie nou skuld beginne rondgooi en onderwysers van onbevoegdheid en ouers van onbetrokkenheid beskuldig nie.

Ware leiers sal op ’n deursigtige wyse analities terug op hul spore gaan en hul eie foute sowel as die tekortkominge van ander identifiseer. Maar, dit is nie ’n aktiwiteit wat geheimsinnig agter toe deure van kantore gedoen word nie; die personeel moet betrek word. Dit is ’n kollektiewe verantwoordelikheid.

Soos Howard Schultz van Starbucks laat blyk het: Die kernaspekte is vertroue, integriteit en kollektiewe eienaarskap. Hierdie eienskappe, volgens Schultz, waarborg langdurige leierskap. Ek wonder dus hoeveel van ons skoolhoofde wie se skole jaar na jaar swak presteer, is braaf genoeg om “mea culpa, mea culpa, mea maxima culpa” uit te roep. Hoeveel van hulle ontleed hul skole se nastrewing van doelwitte op ’n kollektiewe wyse om by die kernoorsake van hul swak prestasies te kom.

Ek dink dat die ministerie hierdie groep skoolhoofde ernstig moet aanspoor om met hierdie aksies te begin.

Hiermee wil ek ook die lesers en die vier behulpsame dames by Republikein ’n aangename nuwe jaar toewens. Mag 2026 vir u en u geliefdes ’n besonderse jaar wees en mag al u drome waar word. Mag die Allerhoogste u ryklik seën. En dan, ’n finale “goodbye” aan ons geliefde MA Kusch. – [email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-01-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer