Onderwys – Skoolafwesigheid
Verlede week was ons fokus op swak presterende skole/streke en die dringendheid van strategieë vir opgraderings (school improvement strategies).
In daardie rubriek was ek van mening dat skole/streke moet eerder op een aspek van skoolbestuur fokus, naamlik leerlingbestuur, as op ’n totale strategie. Vandag is ons fokus op een aspek van leerlingbestuur, naamlik afwesigheid; seker die mees onder-geskatte oorsaak van swak skoolprestasie.
Dit word van ons skole verwag om bywoningsregisters op ’n daaglikse basis by te hou. Aan die einde van elke skooltermyn word hierdie data dan verwerk om ’n opsommende weergawe van die bywoning van daardie termyn te gee. Die vraag is of hierdie data deur die skole sowel as streek- en nasionale owerhede aangewend word om afwesigheid aan te spreek?
Daar word baie keer verkeerdelik aangeneem dat kultuur, tradisie en wetgewing sal sorg dat kinders gereeld skool bywoon, dat die verskonings wat ingedien word, die skade van die afwesigheid ongedaan maak en dat die byhou van registers en selfs kennis aan ouers voldoende is. Die skokkende waarheid is dat afwesigheid ’n uiters nadelige impak op skoolprestasie het en dat dit volgehoue aandag op alle vlakke (skool, streek en nasionaal) verg.
Skoolafwesigheid het geen bekendstelling nodig nie. Die meeste leerlinge handhaaf ’n redelike tot hoë bywoningskoers terwyl daar ’n kommerwekkende groep is wat chronies afwesig is.
In Namibië beskik ons oor enkele kwalitatiewe studies wat ook meestal op die landelike gebiede fokus. Dit lyk nie of die nasionale en/of streekkantore al die skooldata gebruik het om ’n databasis saam te stel of vir beleidformulering nie.
In die VSA is heelwat prominensie aan die verskynsel verleen. Vir die periode 2013-’14 was 6,8 miljoen leerlinge vir ’n totaal van drie weke afwesig. Vir die periode 2015-’16 was hierdie totaal 7,3 miljoen, ongeveer 16% van die totale leerlingpopulasie. Hierdie persentasie vir Distrik Colombia was 31% vir ’n periode van 15 dae.
Die staat Maryland se chroniese afwesigheidskoers was drie keer soveel oor dieselfde tydperk terwyl die algemene afwesigheidskoers die laagste was. Gedurende daardie tyd was Noord-Dakota se bywoningskoers die beste.
Maar, om die probleem aan te spreek, moet ons nie net vertroud wees met die data nie, maar ook die dryfvere agter die verskynsel ken. Die Namibiese studies toon ’n korrelasie tussen armoede en chroniese afwesigheid.
Dit is onwaarskynlik dat honger kinders gereeld by die skool sal opdaag. Die waarskynlikheid om ’n ete te kry deur op straat te bedel, is groter as by ’n skool sonder ’n voedingskema. Eweneens sal ’n dogter ten tyde van menstruasie sonder sanitêre doekies verkies om tuis te bly. ’n Mens sal kinders sonder ouerlike betrokkenheid en doeltreffende toesig eerder op straat as by die skool vind. Gelukkig het die Namibiese gemeenskap heelwat projekte gevestig om honger te stil en meisies van sanitêre doekies te voorsien. Nieregeringsorganisasies en kerke vestig sopkombuise en voorsien meisies van sanitêre doekies. Besighede soos apteke en ander besorgde individue en organisasies lewer ook gereeld bydraes. Hierdie tipe van ondersteuning moet ook aangeteken word, sodat mens die impak daarvan, indien enige, kan bepaal.
Die impak van skoolafwesigheid is natuurlik ontstellend. Eerstens moet ’n mens daarop wys dat dit die leerlinge wat gereeld skool bywoon, ook negatief beïnvloed. Die onderwyser is genoop om meer tyd aan die chroniese afwesiges te bestee en sodoende die ander “effe af te skeep”. Verder impakteer dit negatief op skoolprestasie, skoolretensie en die voltooiingskoers. Navorsing wys ook op die korrelasie tussen chroniese afwesigheid en voortydige skoolverlating (dropout). Boonop is al die bogenoemde natuurlik uiters negatief vir kostedoeltreffendheid. Daar is miskien ook ’n les vir ons uit die VSA te leer. Befondsing van skole word nie net op grond van leerlingpopulasies gedoen nie, maar skoolbywoning word ook deel van die berekening in sommige state. Vir die dae wat ’n leerling afwesig is, word sy/haar gedeelte van die subsidie teruggehou. Dit moedig skole aan om skoolbywoning te bevorder.
Wat skoolbywoning in ons land betref, is alles nie kosher nie. Dit sal die ministerie, die streke en skole loon om maniere te vind om die data wat by die skole ingesamel word, doeltreffend aan te wend. Ek is seker daar kan ook ruimte in die registers gevind word vir die redes vir die afwesigheid asook die pogings wat aangewend is om die verskynsel in die kiem te smoor. Beleidvorming kan ook geweldig hierby baat.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie