Onderwys – Regstatus, begrip, kennis en insig
Enige kind “is nog nie”, “kan nog nie” en “mag nog nie”. ’n Kind beskik nog nie oor die regstatus van ’n volwassene om sekere regshandelinge uit te voer nie, beskik nog nie oor die kognitiewe vermoë (denkvermoë) om sekere dinge te verstaan en onafhanklik daarop te reageer nie en mag vanweë sy jeugdige ouderdom sekere dinge nie doen nie.
’n Leerder se handelingsbevoegdheid word weens sy ouderdom aan bande gelê. Maar, hierdie beperkings is nie absoluut nie. Leerders mag in uitsonderlike gevalle toestemming vir mediese behandeling gee, hulle kan ook in uitsonderlike gevalle regterlik aanspreeklik gehou word vir skade berokken en hulle het toegang tot statutêre en gemeenregtelike beskermingsmeganismes op die skoolperseel en waar hulle ooreenkomstig die skoolprogram is. Onderwysers verkeer vir ’n groot deel van ’n skooljaar met kinders en behoort deeglik bewus van hul regstatus te wees.
Soms wonder ek hoe goed onderwysers hieroor ingelig is. Toe ek op laerskool was, so in die laat 50’s en vroeë 60’s, was van ons skool se onderwysers lief om leerders gedurende skooltyd te stuur; toebroodjies moes by die huis gaan haal word, iets moes by ’n winkel gekoop word of ’n pakkie moes by die poskantoor afgehaal word.
Soms moes ’n paar leerders stokkiedraaiers gaan soek. Ek dink nie dat onderwysers gedink het oor die risiko’s van hierdie rondstuurdery nie. Ja, ons het daarvan gehou; behalwe die “wegglip” uit die klas het dit jou belangrik laat voel. Meneer het jou dan vir hierdie “belangrike” takie gekies!
Dit is ook vir my onverstaanbaar dat wanneer iets met leerders gebeur, daar in baie gevalle nie indringend daarna gekyk word nie en dat antwoorde op eenvoudige regsvrae nooit met die nodige erns gesoek word nie.
’n Klompie jaar gelede is ’n leerder, na bewering, in die ||Kharasstreek op die skoolperseel beseer. Op die perseel was ’n groot stuk rots waar die kinders graag gespeel het en een op ’n dag seergekry het. Die leerder is huis toe gestuur/geneem en het kort daarna by die huis gesterf. Volgens die beskikbare inligting was dit maklik om ’n kousale verband tussen die val en die heengaan te konstrueer. Ek wonder ook nou nog of die onderwysers nie die moontlikheid kon insien dat leerders op die spesifieke area van die speelterrein kon seerkry nie. Maar, dis water onderdeur die brug; die regte vrae is nooit gevra nie.
In sy boek, In Biddende Verbondenheid, maan die Stellenbosse teoloog, prof. Nico Koopman, ons teen apatie, onverskilligheid en middelmatigheid in ’n gebroke wêreld. En hoe gebroke is ons wêreld nie?
In 2013 is ’n 17-jarige seun op die perseel van ’n Windhoekse hoërskool gesodomiseer. Die onderwyser was ook een van die gesagspersone by die koshuis. Die beskuldigde is slegs uit die koshuis geskors, maar is toegelaat om sy werk onverpoos by die skool voort te sit. Wat skrikwekkend is, is dat die seun by die voorligtingonderwyser oor die beskuldigde gekla het, maar “daarvan het dadels gekom”, volgens die joernalis. Agt jaar later het dieselfde onderwyser weer toegeslaan; hierdie keer was dit ’n 19-jarige seun. Hierdie keer het die skoolhoof die seun self na die polisiekantoor geneem. Hy het voor die dissiplinêre verhoor bedank, en ek weet nie hoe ver die strafregtelike saak gevorder het nie.
Wat my steeds pla is die waarnemende direkteur se opmerking dat die seun self ’n klag by die polisie aanhangig moet maak, aangesien hy 19 jaar oud was. Ooreenkomstig die in loco parentis-leerstuk is elke amptelik toegelate leerder by ’n skool, onder die beskerming van die skoolhoof ongeag sy ouderdom. My bede is dat dit goed gaan met daardie seuns en dat hierdie verskriklike gebeure hulle nie sal laat ontspoor nie.
Daar is nog een geval waaraan ek dink. Jare gelede het onderwysers by ’n plaaslike skool die gewoonte gehad om ’n skoolwerker te stuur om iets te ete te gaan koop. Die werknemer wat gewoonlik ’n fiets gebruik het, was in ’n ongeluk betrokke en het omgekom. Niemand is aanspreeklik gehou nie! Wanneer onderwysers kinders of werkers gedurende skoolure stuur, moet hulle besef dat daar altyd risiko’s aan verbonde is.
Waar laat dit ons? Salomo in sy spreuke slaan insig, kennis en verstand baie hoog aan. Daar rus ’n plig op onderwysers om deeglik kennis te neem van die regstatus van leerders sowel as werknemers van die skool.
Luister na Salomo. “Get wisdom, get understanding; do not forget my words or turn away from them. . . Knowledge is of more value than gold.”


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie