Godfrey Kleinhans
Godfrey Kleinhans

Onderwys – Publikasie van eksamenuitslae

Godfrey Kleinhans

Lesers onthou dalk dat ek jaarliks, gewoonlik in Januarie/Februarie, my indrukke gegee het oor eksamenresultate vir die finale skooljaar (matriek) van die vorige skooljaar.

Dit was moontlik om dit te doen omdat die uitslae in die koerante gepubliseer was. Die ministerie het ’n paar jaar gelede besluit om die praktyk te staak. ’n Mens kan nie juis die bietjie wat wel gepubliseer word, gebruik vir verdere ontledings en sinvolle gevolgtrekkings nie. 

Tot en met verlede jaar (eksamens van 2024) het ek goedgunstiglik die simboolverspreidings van die verskillende vakke van die ||Kharasstreek gekry; let wel nie die name van die kandidate nie. Hierdie jaar is ek meegedeel die streekdirekteur het opdrag gegee dat inligting van hierdie aard nie meer aan eksterne persone en instansies voorsien mag word nie. Volgens die persoon wat my hieroor ingelig het, laat die ministerie/minister dit nie meer toe nie.

In ons buurland, Suid-Afrika, het daar ’n diskoers gewoed (en ek dink nog steeds) oor die vraag of die matriekkandidate se eksamenuitslae gepubliseer moet word. Die ministerie van onderwys wou die eksterne uitslae, soos vorige jare, laat publiseer met die voorbehoud dat die name van die kandidate nie vermeld mag word nie. 

Die Reguleerder van Inligting het egter die standpunt in geneem dat sodanige publikasie strydig met die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, Wet 4 van 2013 (ofte wel Popia) sou wees. 

Hierdie onsekerheid is vir die eerste keer in Spies and Others vs Minister of Basic Education in 2022 aangespreek. Hier het die hof beslis dat die formaat waarin die uitslae gepubliseer word (name uitgesluit) onmoontlik vir derdes maak om die kandidate te identifiseer. 

Dit was dus nie die prosessering van persoonlike inligting nie en gevolglik nie strydig met Popia nie. Die hof het beslis die ministerie, soos in die verlede, kan voortgaan met die publikasie van die uitslae. 

In stryd met hierdie uitspraak het die reguleerder, in terme van die bepalings van Popia, die ministerie verbied om met die publikasie voort te gaan. Op appèl (Minister of Basic Education and Another v Information Regulator of South Africa 148459/24) het die hof korte mette gemaak met die argument dat daar ’n verhouding is tussen die volgorde waarin die kandidate se uitslae gepubliseer word en die sitplekke wat hulle in die eksamenlokaal inneem.

Die respondent was van mening dat derdes kan, aan die hand hiervan, die kandidate identifiseer. Die hof het beslis die formaat van die publikasie het niks te make met die prosessering van privaat inligting nie. Dit is tans die regsposisie en die uitslae sonder die name van die kandidate is in 2025 in Suid-Afrika gepubliseer. 

Maar, daar is ander belanghebbendes (stakeholders) naas die onderwysadministrateurs, onderwysers, ouers en leerlinge, vir wie die uitslae belangrik is. Skoolouers stel nie net belang in hul eie kinders se uitslae nie, maar vergelyk ook skole op grond van hul globale prestasie. 

Dit is vir hulle belangrik om te weet by watter skole die “beste” skoolhoofde en onderwysers is; dit is daar waar hulle hul kinders wil hê. Werk- en beursgewers is gedurig op soek na skole met goeie matriekuitslae. Hulle raap hierdie matriek graduandi op vir werksgeleenthede en beurse. 

Werkgewers lok ook graag hierdie jong mense deur aanbiedinge van indiensopleidingsgeleenthede en groei in die besigheid. Hulle en beursgewers stel eenvoudig nie belang in onderpresteerders nie. Verder, is dit joernaliste, kolomskrywers (waarvan die uwe een is) en analiste se dagtaak om met inligting te werk. 

Hulle samel dit in, verwerk dit en voorsien gemeenskappe en nieregeringsorganisasies daarvan. Hulle verdien hul brood en botter hiermee en dis hoe hulle die gemeenskap dien. Inligting, soos matriekuitslae, is uiters belangrik vir hierdie belanghebbende groepe. 

Dus, wanneer matriekuitslae met die uitsluiting van die kandidate se name gepubliseer word, is dit definitief nie ’n prosessering van hul privaat inligting nie. Ek kon ook geen aanduiding vind dat hierdie posisie in terme van die Wet op Toegang tot Inligting van 2022 al in ’n hof getoets is nie. 

Miskien moet die ministerie so ’n ex parte-aansoek tot die hof rig. Die weerhouding van matriekuitslae van sekere belangegroepe is definitief nie in gemeenskapsbelang nie. 

– [email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-11-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer