Godfrey Kleinhans
Godfrey Kleinhans

Onderwys – Privaat skole: Stigting

Godfrey Kleinhans

Namibië beskik oor ’n verskeidenheid van privaat skole. Die onderskeidende kenmerke is stigtingsfaktore en befondsing. 

Die minister het nou onlangs na laasgenoemde verwys en belowe om binnekort met ’n nuwe befondsingsmodel na vore te kom. Sommige van die reaksies op die minister se aankondiging op sosiale media is duidelik afkerig teenoor befondsing vir privaat skole. 

Mens moet egter verstaan dat ons meer as 250 privaat skole (verskillende tipes) en meer as 50 000 ingeskrewe leerders in die land het. Aan die einde van die dag gaan dit om die belang van die leerders; maar meer hieroor volgende week. Dit is egter absoluut belangrik om vertroud met die historiese agtergrond van privaat skole te wees om die huidige polemiek oor die onderwerp te verstaan. 

Die stigting van privaat skole in ons land en buurland was ’n reaksie van Christen-gemeentes op die staat se onwilligheid om nie-wit-onderwys behoorlik te befonds. Die staat het skoorvoetend tot hierdie ontwikkeling toegetree totdat al die skole subsidies ontvang het. Hierdie subsidies was vir die vergoeding van personeel, uitrustings, skryfbehoeftes, handboeke en dienste bedoel. Die geboue het die uitsluitlike eiendom van die eienaars gebly. 

Ek kan onthou dat die staat (na 1989) nooit onwillig was om verder hulp te verleen nie. By geleentheid het die staat vir die oprigting van ablusiegeriewe op die perseel van een van hierdie skole in die Suide betaal.

Die tweede kategorie was die gemeenskapskole wat deur die plaaslike strukture en leiers van die Swapo-party gestig is. In die ||Kharasstreek was daar twee gemeenskapskole met koshuise en in die Hardap een. Hierdie skole het ook leerders uit ander gewestes ingeneem wat met toelating gesukkel het. 

Die apartheidstaat het hierdie tipe skoolstigting gekniehalter deur sy skoolbouprogram op te gradeer; so het Berseba ’n staatskool gekry tydens die tyd van regter Tienie Steyn. Die staat was uiteraard vanaf 1989 simpatiek teenoor hierdie skole en hulle is net so behandel soos die ander gesubsidieerde inrigtings. Al hierdie skole het die ministerie se kurrikula geïmplementeer en moes aan die voorskrifte en regulasies van die ministerie voldoen. 

Derdens het ’n reeks privaat skole in terme van Artikel 20(4) van die Grondwet na 1989 die lig gesien. Hierdie skole is deur persone of individue met hul eie geld gestig en is verplig, om naas ander registrasievoorwaardes, getrou die res van subartikels 20(4) na te kom. 

Onder hierdie skole tel Windhoek Gimnasium, Windhoek Afrikaanse Privaatskool, Keetmanshoop Privaatskool, Elnatan, Walvisbaai Gimnasium, Windhoek Internasionaal en Gobabis Gimnasium. 

Die Deutsche Höhere Privatschule, die resultaat van Duitse inisiatief, is reeds in 1909 gestig. Die skool word nog gedeeltelik uit Duitsland gefinansier. Hierdie skole implementeer die Namibiese kurrikulum of ander soos die van Cambridge en die Onafhanklike Eksamenraad (IEB).

Die vierde kategorie is skole wat na ’n ooreenkoms met die staat (my verstaan daarvan) gestig is. Hierdie skole sluit veral dié op myndorpe met gemeenskappe soos Oranjemund in. Oranjemund was vir jare ’n geslote ongeproklameerde dorp en die Oranjemund Privaatskool was slegs toeganklik vir die dorp se kinders. 

Verskeie leerders het na graad 7, gewoonlik met die hulp van die maatskappy, toelating by van Suid-Afrikaanse spogskole gekry. 

Die vyfde kategorie is skole op Walvisbaai, wat na die insluiting van die enklawe, deel van die ministerie geword het. Hierdie skole sluit drie skole in wat voor die insluiting van die enklawe as model C-skole in Suid-Afrika geregistreer was. Hierdie skole het vanweë hul “verhewe” model C-status verkies om as privaat skole in Namibië te registreer. 

Ek aanvaar dat hierdie statusverandering asook die befondsing deur die staat vervat is in die ooreenkoms wat aangegaan is tydens die oorname van Walvisbaai deur Namibië. 

Dan is daar ’n sesde kategorie soos die Christen-skole, waarvan daar ’n hele paar in die land is en ook in terme van artikel 20(4) gestig is. Hierdie skole is selfonderhoudend en ontvang ook geen finansiële ondersteuning van die staat nie. 

Die res is meestal enkele skole of kleiner groepe soos die Montessori-skool te Lüderitz asook die skool wat jare gelede deur wyle Ottilie Abrahams in Windhoek gestig is.

Privaat skole is om verskillende redes in die land gestig en volg ’n kurrikulum van hul keuse (natuurlik met die ministerie se goedkeuring). Tans blyk daar nie ’n eenvormige beleid te wees wat befondsing (óf ondersteuning) betref nie. ’n Nuwe beleid sal duidelik moet kennis neem van die stigtingsdeterminante en ooreenkomste hierbo genoem. Volgende week meer hieroor.

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-02-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer