Onderwys – Privaat onderwys en privaat onderrig
Privaat onderwys is ’n universele verskynsel en kom in verskillende vorme voor.
In dorps- en stedelike gebiede word tradisionele skoolgeboue daarvoor gebruik terwyl tuis- en aanlyn onderrig in ’n mindere mate in dorpe voorkom, maar merendeels op plase en verafgeleë gebiede.
Sedert die neëntigerjare is daar heelwat outeurs en navorsers wat aandag skenk aan ’n ander tipe van privaat onderwys, naamlik privaat onderrig. Privaat onderrig word meestal deur private persone aan leerders ná skool of oor naweke teen betaling voorsien; dit komplimenteer dus formele primêre en sekondêre onderwys.
’n Insiggewende boek getiteld, Confronting the Shadow Education System, deur die Hongkongse professor Mark Bray, het in 2009 die lig gesien. Volgens Bray, en ander, het privaat onderrig in ’n reusebedryf ontwikkel wat ouers reusebedrae jaarliks uit die sakke jaag en die verskaffers ryk maak.
Die “skaduwee”-onderwysstelsel kom voor oraloor die wêreld; in ontwikkelende en ontwikkelde lande. In sommige van die lande is meer as 50% van skoolleerders ontvangers van privaat onderrig. Die impak hiervan is dat die monitêre waarde van die stelsel geweldig oor die jare gegroei het.
In Frankryk alleen, was dit teen die tyd van Bray se navorsing, 2,21 miljard euro werd. Baie van die verskaffers wat onderwysers in die formele stelsel was, het gevolglik geen belasting op die ekstra inkomste betaal nie. Die gevolg is dat belastingstelsels so aangepas is dat verskaffers in latere jare in sommige lande belas is.
Daar is natuurlik baie redes waarom die “skaduweestelsel” so geweldig oor die jare gegroei het. Een daarvan is dat formele onderwys nie aan die verwagting van die ouers voldoen het nie. Met komplimentêre onderrigtyd doen leerders baie beter, vorder vinniger deur die stelsel en die toelatingskoerse tot hoër onderwys neem toe.
Daar is egter ook mense wat anders oor komplimentêre onderwys dink. Die stelsel is elitisties en beskikbaar vir diegene wat dit kan bekostig. Dit skep en verdiep dikwels sosiale ongelykhede; nie net in gemeenskappe nie, maar ook in die klaskamers. Dit is ook moontlik dat huishoudelike bronne, wat vir dringender en nodiger behoeftes aangewend kon gewees het, hierdeur opgeslurp word. Verder is daar ’n sterk aantyging dat tutors wat in staatskole werksaam is, baie meer waarde aan hul betrokkenheid by komplimentêre onderrig heg.
Dit bring my by vandag se onderwerp! ’n Vriendin wou van my weet of ’n nuwe private inrigting wat op die dorp gestig is, geakkrediteer is en as eksamensentrum geregistreer is. Hierdie instansies het in die laaste jare in getalle toegeneem.
Hulle bied geleenthede aan voortydige skoolverlaters (dropouts) om bepaalde grade klaar te maak en aan ander om die gradering van sekere vakke te verbeter. Sommige bied ook sekere vakrigtings aan wat dit vir skoolverlaters moontlik maak om ’n werk te bekom.
Net soos die gewone private skole moet hierdie instansies akkreditasie verkry asook by die ministerie registreer om sekondêre eksamens af te neem. Ek is nie seker watter kontrolemeganismes geïmplementeer is om beheer oor hierdie instansies uit te oefen nie.
Ek dink egter dat die volgende vrae aandag verdien!
Word die streekonderwysowerhede met toesig oor hierdie inrigtings belas? Word die instansies besoek om seker te maak dat die aktiwiteite by hierdie inrigtings in lyn is met hul registrasie en akkreditasievoorwaardes, asook met die nastrewing van hul doelwitte?
Is die omgewing waar onderrig plaasvind enigsins geskik en bevorderlik daarvoor? Beskik die ministerie oor data rakende die inname van onderwysers en studente?
Hoeveel studente wat by hierdie inrigtings aansluit is suksesvol en verkry toelating tot naskoolse opleiding of is suksesvol met hul werkaansoeke?
Wat is die globale jaarlikse monitêre waarde van hierdie ondernemings en dra dit enigsins by tot welvaart in hierdie land?
Volgende week kan ons verder aandag aan privaat onderwys gee. (Hierdie een dra ek op aan ’n oudkollega, Johan Andre Mostert, wat nou onlangs oorlede is. Baie sterkte word Cilie, kinders en kleinkinders toegebid.)
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie