No Image Caption

Onderwys – Oorvol klaskamers en onbekwame onderwysers

Die lesers wat gereageer het op die eksterne eksamenuitslae, het ’n lys van moontlike oorsake vir die power uitslae in die dagblaaie voorgehou. Almal wat vermeld is, is relevant, maar om almal terselfdertyd aan te spreek, maak nie juis sin nie. Dit sal net peperduur konferensies en ’n reeks werkwinkels tot gevolg hê. My raad (vergewe my voorbarigheid) is om te prioritiseer en die olifant stukkie vir stukkie uit die voorhuis te boender. Koste gewys maak dit vir my meer sin om by die afwesigheid van leerlinge, senior skoolpersoneel, vakadviseurs, inspekteurs van onderwys, adjunk- en streekdirekteure te begin.

Een politieke leier in Windhoek plaas egter die blaam voor die deur van hoë leerling-onderwyser ratio’s (te veel leerlinge in ’n klasgroep) en onbekwame onderwysers.

Hierdie faktore is nie irrelevant nie, maar laat my toe om my standpunt beter te belig. Gereelde en stiptelike skoolbywoning en klasbywoning, is van die aanduiders van kwaliteit-onderwys wat onderwysers uiters doeltreffend tot hul voordeel en die van die leerlinge kan gebruik. Gereelde skoolbywoning en klasbywoning skep positiewe verhoudings tussen leerlinge en onderwysers en onderling tussen leerlinge. Die leerlinge is ook meer positief teenoor die leerinhoude ingestel. Die “verstaan” van die leerinhoude word dan ’n lekker uitdaging. Hierdie positiwiteit kan net realiseer as die onderwyser ook elke dag opdaag vir werk en betyds is vir elke les. Die leerlinge vertrou die onderwyser, sien elke dag uit na die skool met al sy uitdagings, doen hul tuiswerk en gaan die toets- en eksamenlokale in sonder enige “bewerasies”. Dissipline probleme word ook tot die uiterste minimum beperk. Volgens navorsing is daar ’n positiewe verband tussen gereelde skoolbywoning en akademiese sukses. Streekkantoorpersoneel wat gereeld op kantoor of by skole is, en “reis-en-verblyftoere” tot die absolute minimum beperk, het genoeg tyd om gereeld evaluasie te doen, probleme te identifiseer en hulp aan skole te verleen.

Afwesigheid deur leerlinge, onderwysers en streekkantoorpersoneel is seker nie die belangrikste rede vir swak skoolprestasie nie, maar dis ’n goeie plek om te begin met die minimum kostes. Die ministeriële regulasies en skoolreëls is nie net beskikbaar nie, maar beklemtoon ook die belangrikheid van gereelde skool- en werkbywoning. Elke streekkantoor en skool word verplig om bywoningsregisters by te hou wat op aanvraag beskikbaar behoort te wees. Skole hou ook ’n register by wat besoekers van die streekkantoor moet invul wanneer hulle skole besoek; die rede vir die besoek moet duidelik daarin aangedui word. Swak skool- en werksbywoning kan onmiddellik met die minimum koste aangespreek word.

Maar, wat dan van onderwyser-leerling-ratio (klasgrootte) en onbekwame onderwysers. Natuurlik is hierdie baie relevante redes vir onderpresterende skole. Om hierdie faktore te takel, is egter ’n perd van ’n ander kleur; die kostes in terme van tyd en geld kan astronomies wees. Kleiner klasgroepe vra vir meer klaskamers en meer onderwysers. Om die bekwaamheid van onderwysers op te grader, sal beteken dat huidige sowel as indiensopleidingsprogramme herevalueer moet word. Hierdie verbeteringe kom met hoë kostes en is lang termyn. Om alles te kroon sukkel navorsers om tot ’n besluit te kom oor wat die optimum klasgrootte behoort te wees. Té groot klasgroepe kan ondoeltreffend in die hand werk, terwyl die teenoorgestelde baie duur kan wees. Geld wat die staat op die oomblik nie het nie!

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer