Godfrey Kleinhans
Godfrey Kleinhans

Onderwys – Onderwyser se reg op waardigheid en veiligheid

Godfrey Kleinhans

Onderwysers en leerders het bepaalde vryhede en verpligtinge wat spruit uit die Grondwet, statutêre reg, gemenereg en regspraak.

Die vryhede en verpligtinge van onderwysers en leerders verkeer in ’n kruisverhouding met mekaar. Die onderwyser beskik oor die akademiese vryheid om sy kennis en vaardighede binne die raamwerk van die kurrikulum in die klaskamer aan te wend, terwyl die leerder verplig is om haar/hom toe te laat om dit te doen. Die leerder aan die ander kant het die reg tot onderrig en leer terwyl die onderwyser verplig is om haar/hom deeglik vir elke les voor te berei. 

En, so is daar ’n lys van vryhede en verpligtinge wat in so ’n verhouding vervleg is. Van die regte van die onderwyser, wat veral in die demokratiese opset onder bedreiging kom, is sy/haar reg op waardigheid en veiligheid. 

In een so ’n geval in ons land is ’n skoolhoof strafregtelik aangekla, deur die polisie aangehou en uiteindelik in ’n betrekking by die onderwyshoofkantoor in Windhoek geplaas. 

’n Leerder by die betrokke hoërskool het met ’n selfoon by die eksamenlokaal opgedaag. Die skoolhoof het dit gekonfiskeer en geweier om die foon aan die pa van die leerder terug te gee. Volgens die seun het dit aan sy pa behoort en laasgenoemde het die skoolhoof meegedeel dat dit belangrik vir sy besigheid was. Die pa het daarna ’n klag by die polisie ingedien, waarna die skoolhoof in aanhouding geneem is. 

Die hele debakel het geëindig in die skoolhoof se verplasing. Met die wysheid van agterna, blyk dit dat die minister se optrede daarop gemik was om die belange van die skool, die leerder en die ouers te balanseer. Die minister het glo ook opgemerk dat sy amptenare nie tred met die ontwikkeling van die tegnologie gehou het nie. Die ministerie moes meer proaktief gewees het en selfone op skoolgronde, en veral in eksamenlokale, verbied het. Die minister was agterna wel spyt oor die wending wat die hele storie geneem het. Daar was nie ’n hofsaak agterna nie, maar hier is een geval waar ’n skoolhoof se waardigheid en gesag onder skoot gekom het. Weinig kon agterna gedoen word om hierdie tipe skade te herstel.

In ’n ander geval, hierdie keer in die VSA, het ’n aanval op die waardigheid van ’n onderwyser tot die verwoesting van sy loopbaan, reputasie en waardigheid gelei. ’n Leerder het ’n onderwyser daarvan aangekla dat hy haar verkrag het. Sy verwere het op dowe ore geval. Jare daarna het die sogenaamde slagoffer, toe ’n volwassene, erken die voorval het nooit gebeur nie. Maar toe was dit reeds te laat. Die hartseer van hierdie verhaal is dat die skoolhoof, die streekdirekteur, die polisie en die aanklaer hom geglo het, maar elkeen moes die klag “boontoe rapporteer”. Ná twee dae in die hof het die magistraat die klag uitgegooi. As dit nie gebeur het nie, sou dit die staat so $300,000 gekos het. 

In ’n onlangse geval is leerders wat rassistiese opmerkings op ’n WhatsApp-groep geplaas het, geskors. Ná ’n ondersoek is die meisies onskuldig bevind. Die skoolhoof, Phillipa Erasmus, is toe daarvan aangekla dat sy nie die klagtes deeglik ondersoek het nie. Sy is onskuldig bevind maar, is weer aangekla, hierdie keer ’n sogenaamde administrasie-klag. Sy is daarvan beskuldig dat sy haar eggenoot toegelaat het om die skool se bakkie te bestuur. Die waarheid is dat hy gehelp het om die vullis op die skoolperseel te verwyder. Ná die intrede van die Mbeki-stigting, die Suid-Afrikaanse Onderwysunie en die Raad vir Arbeidsverhoudinge vir Onderwysers, is die klag uitgegooi. Hierdie liggame het bevind dat dit geen substansie gehad het nie. Baie mense is nog van mening dat die onderwysowerheid van haar ontslae wou raak. 

Hierdie soort goed moet vermy word. En, die enigste manier om dit te bewerkstellig, is opleiding. Windhoek Hoërskool se selfoon- en die Pretoria Girls High-saga bevestig dat regte nie sommer verwater omdat onderwysadministrateurs, ouers, leerders en ander belangrike mense dit so gewil nie. As ons in posisie nie gevestigde regte in ag neem nie, kan dit traumatiese gevolge hê, soos hierbo vermeld. 

– godfrey,[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-09-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer