No Image Caption

Onderwys – Onderwys en politieke verkiesings

Die Namibiese streek- en plaaslike owerheidsverkiesings is iets van die verlede. En, getrou aan ons verkiesingskultuur was dit vreedsaam en sonder enige opskudding.

Ek glo ook nie dat dit gevolg sal word deur hofsake waarin verkiesingsprosedures en -uitslae betwis sal word nie. Ek is nie seker nie, maar dit wil voorkom asof die stempersentasie effens laag was. Maar, as dit wel die geval is, sal die ontleders wel later deeglik aandag daaraan gee.

Die belangrike vraag nou is, van watter betekenis streek- en plaaslike owerheidsverkiesings vir onderwys is. Ons weet dat die desentralisasieproses nog steeds in die delegasiefase is. Dit beteken dat die 14 onderwysstreke hul geld en instruksies van die onderwyshoofkantoor in Windhoek kry. Die plaaslike en streekowerhede het dus geen direkte bevoegdheid oor onderwys nie.

Die anomalie is dat die befondsing van onderwys in die streke tans deur die hoofstreekbeamptes van die streekrade gekanaliseer word. Alle onderwysuitgawes in ’n streek moet deur hom of haar afgeteken word.

Dit is egter vir my onduidelik of die hoofstreekbeampte die bevoegdheid het om te weier dat enige betaling gemaak word. Natuurlik moet hy of sy weier om betalings te magtig as daar iets ongerymd is of korrupsie bespeur word.

Maar, groot probleme kan ontstaan wanneer daar verhoudingsprobleme tussen die onderwysdirekteure en die hoofstreekbeamptes bestaan. Sodanige probleme kan die gevolg van verskillende politieke oortuigings en affiliasies wees.

Soms kan konflikte ook van ’n meer persoonlike aard wees. Probleme kan geminimaliseer word as die bevoegdheidsverhouding tussen die houers van die twee posisies duidelik deur die toepaslike ministeries uitgespel en gemonitor word.

In die verlede het ek in hierdie rubriek al daarop gewys dat streekpolitici, ten spyte van die desentralisasiefase waarin ons tans verkeer, ’n belangrike rol in onderwys kan speel. Tans presteer van die onderwysstreke nie waffers nie. Prestasie en vooruitgang in die streke word gestriem deur onbetrokke ouers, swak dienslewering, ondoeltreffende skoolrade en dormante onderwysforums. Streekleiers kan druk op diensverskaffers plaas en help met die opleiding van skoolrade. Streekrade is veronderstel om ingevolge die onderwyswet ’n deurslaggewende rol in onderwysfora in die streke te speel. Streekrade kan ook druk op die ministerie uitoefen om hul verantwoordelikhede teenoor die streke stiptelik na te kom. Politieke affiliasie verander nie nasionale en streekonderwys-aspirasies nie.

Maar, dit bly maar ’n probleem om die skeiding tussen politiek en onderwys te handhaaf. Vir baie politici is skole en skoolouers sagte teikens wanneer hulle werwingswerk doen.

Jare gelede, in die dae van etniese onderwys, het die voorsitter van die destydse Kleurling Verteenwoordigende Owerheid my versoek om saam met een van sy raadslede te werk. My antwoord was dat my mandaat was om die gemeenskap te dien. Die gesprek het daar geëindig, maar van daai oomblik af moes ek maar lig trap. Maar, dit bly haas onmoontlik om die twee van mekaar te skei. Onderwys kweek politieke belangstellings, versterk ondersteunende politieke vryhede en bevorder politieke kennis. Deur politieke betrokkenheid word persone verkies tot die hoogste politieke liggame in ’n land; dit is hier waar die model van onderwysvoorsiening gekies word, waar besluit word op onderwyswetgewing en waar geld vir die operasionalisering van onderwys bepaal word. Die sleutelwoord bly egter politiek en nie partypolitiek nie.

Streekverteenwoordigers moet hul gemeenskappe (en die individuele lede) ongeag hul partypolitieke voorkeure dien. Hulle moet hul “partyhoede” tuis los wanneer hulle skoolraad- en onderwysforavergaderings bywoon.

Hulle moet waak teen nepotisme wanneer van hulle verwag word om betrokke by die werwing en bevordering van streekamptenare te wees. Hulle mag nie opdragte met verskuilde politieke motiewe aan amptenare rig nie. En, hulle party se aspirasies (of hul eie) het niks te make met die werksaamhede van die verkrygingsrade waarop hulle dien of mag dien nie. – [email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-01-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer