Onderwys – Onderwys, die Grondwet en godsdienstige vryhede
In die Nuwe Testament (NT) omskryf die dissipel Jakobus die ware godsdiens as iets goeds, suiwer en aanvaarbaar voor God. Hierdie eienskappe vind uitdrukking in liefde en medelye vir die armes, ondersteuning aan die hulpelose, die weduwee en die wese.
Ek weet ’n bietjie van Islam, maar weinig van Judaïsme, Hindoeïsme en Boeddhisme. Eweneens weet ek net so min van die tradisionele Namibiese en Afrika-godsdienste. Maar, ek is daarvan oortuig dat die pragtige eienskappe hierbo genoem deur Jakobus, nie gereserveer is vir Christene nie. Dit sal ook voorkom in ander godsdienste; hulpverlening aan die armes (zakat) is een van die pilare van die Islam-geloof. Die talle Christen-denominasies getuig ook nie juis van die eenheid waaroor die NT in nie minder as vyf boeke praat nie. Dit is allermins ’n bevestiging van eenheid. Dit toon weinig ooreenkoms met Paulus se verstaan van “eenheid” en lofprysing van God uit, “een mond”. Maar eenheid, ten spyte van Paulus se advies, is ’n rare verskynsel in die Christenwêreld.
Namibië is natuurlik geen uitsondering nie. In ons land identifiseer tussen 90% en 97% met een of ander denominasie. Verder word die godsdienspopulasie aangevul met aanhangers van tradisionele Namibiese en Afrika-godsdienste, Moslems, Jode, Hindoes, en Boeddhiste. Verder moet mens ander kleiner groepe sowel as die ateïste en agnostici ook in ag neem.
Ons stigtervaders en -moeders van die republiek is met ’n enorme uitdaging gekonfronteer: godsdienstige diversiteit. Hulle moes diep delf, en wat die beskerming van godsdienstige vryhede betref, was hulle uiters suksesvol.
In terme van Artikel 10 van die Grondwet mag daar teen niemand gediskrimineer word op grond van sy/haar godsdienstige oortuigings nie. Elke persoon het in terme van Artikel 14 die reg om in die huwelik te tree en ’n gesin te begin sonder enige inmenging op grond van godsdienstige oorwegings. Artikel 19 waarborg die onversteurde genietinge van godsdienstige vryhede en geen kind mag by enige staats- of privaat skool toelating geweier word op grond van godsdienstige affiliasie nie (Art. 20).
Artikel 21 waarborg ’n klompie vryhede, onder andere godsdiens. Al hierdie vryhede mag onversteurd geniet word op voorwaarde dat die uitoefening daarvan nie in stryd is met enige regsbepaling of ander persone belemmer in die uitoefening van hul eie regte nie.
Dan is daar nog ’n olifant in die kamer. Baie mense is van mening dat ons in ’n sekulêre staat woon en dat dit ’n demper plaas op die vryhede onder bespreking. Ander is weer van mening dat die staat nie godsdiens-vriendelik is nie.
Eerstens, in die aanhef tot die Grondwet word genoem dat Namibië onder andere ’n sekulêre staat is en soos hierbo vermeld die onbelemmerde uitoefening van godsdienstige oortuigings waarborg.
Daar is ’n voorwaarde. Geen een van hierdie regte mag uitgeoefen word as dit in konflik is met die regte van ander persone nie of openbare belang nie. Verder maak Artikel 25 dit uiters moeilik vir die howe of die uitvoerende gesag om hierdie vryhede sonder meer in te perk.
Nou, wat is die implikasies hiervan vir die skool en die onderwyser. Skole moet aan alle leerlinge die reg gun om hul geloofsoortuigings uit te leef. Waar leerlinge te jonk is om sy of haar godsdienstige affiliasie te bevestig, moet die skool deur die kerk- of geloofsaffiliasie van die ouers gelei word. Dit beteken ook dat skole wie se leerlinge en onderwysers oorheersend katoliek is, versigtig moet wees om gereformeerde predikante of lede van protestante kerke te nooi vir praatjies met ’n godsdienste strekking.
Onderwysers mag ook nie hul godsdienstige oortuigings en praktyke op leerlinge afdwing nie. Hierdie grondwetlike reëlings is natuurlik ipso facto op onderwysers van toepassing. Naas die feit dat godsdiens-aktiwiteite nie afdwingbaar is nie, mag dit ook nie diskriminerend wees nie. Verder mag skole met ’n godsdienstige karakter dit behou, mits dit nie met enige statutêre bepaling bots nie.
Tweedens, godsdiensonderrig gaan oor die bestudering van die verskillende godsdienste en kan ’n vak-opsie wees; dit mag nie met godsdiensbeoefening verwar word nie.
Mahatma Gandhi het die volgende oor die verdraagsaamheid oor godsdiens gesê: “Tolerance is the only thing that will enable persons belonging to different religions to live as good neighbours and friends.”
Ek kan nie help om hierdie aflewering met die volgende staaltjie af te sluit nie. ’n Leerling aan ’n skool in Windhoek het die godsdiensrëeling by sy skool gesien as ’n geleentheid “om vir homself ’n vryperiode te bekom”. Op die juffrou se vraag of hy die klas gaan bywoon, was sy antwoord in die negatief want, “I am Jewish”. Hy was natuurlik nie Joods nie, maar was deeglik bewus van bepaalde regte.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie