Godfrey Kleinhans
Godfrey Kleinhans

Onderwys – Naamsverandering

Godfrey Kleinhans

Een van my verantwoordelikhede as onderwysbeplannner was om die streekdirekteur te adviseer oor aansoeke vir naamsveranderinge van skole wat op my lessenaar geland het. 

Een so ’n aansoek moes na streekoorweging aan die ministerie in Windhoek vir verdere aandag voorgelê word. Uit my gesprek met die destydse onder-permanente sekretaris, het dit duidelik geword dat die voorstel getoets moet word aan die kriteria van relevansie, historisiteit, waardigheid en onbestredenheid. 

En, as ’n instansie wel na ’n persoon vernoem moet word, moet hy of sy verkieslik nie meer in die lewe wees nie. As sodanige persoon egter nog leef, mag hy of sy nie deel van die proses wees nie. En, laastens moet so ’n voorstel nie tot ’n onaangename polemiek lei wat die persoon wie so vereer moet word, se naam en reputasie skend nie.

Die afgelope klomp maande het hierdie onderwerp baie opslae in die VSA gemaak. Donald Trump, het hom letterlik vergryp hieraan. Na die aanvang van sy tweede termyn is die Golf van Mexiko verander na die Golf van Amerika, berg Denali – die hoogste berg in Alaska – het nou Mount McKinley geword, Fort Liberty is verander na Fort Bragg, die Dept. van Verdediging het die Dept. van Oorlog geword, die Instituut van Vrede is na hom vernoem en sy naam is gekoppel aan die Kennedy-sentrum. 

En, laaste is gedoen sonder inagneming van die teenkanting deur die Kennedy’s en ander. Daar is ook sprake dat hy daarop aandring dat Dulles-lughawe na hom vernoem word. En, amper vergeet ek sy voorbarige aandrang dat hy die Nobelprys vir vrede moes ontvang. 

Donald Trump is ’n narsis, ’n leuenaar by uitstek, ’n megalomaniak en ’n minagter van mense. Wanneer sy regime ineenstort, sal min mense wil hê dat so ’n persoon se naam aan ’n gebou, ’n instansie of ’n lughawe van belang gekoppel bly.

Hierdie naamsveranderinge laat my dink aan my geliefde Uitenhage wat nou Kariega geword het. Uitenhage is in 1804 deur Jacob Abraham Uitenhage De Mist gestig om die bestuur en veiligheid van daardie deel van die kolonie te bevorder.

Die doel vir die stigting, uit die oogpunt van die Kaapse owerheid en die setlaars, was miskien gemotiveerd, maar die naam is aan Uitenhage De Mist gekoppel. 

Die dorp het egter ’n sterk industriële groeipunt geword; iets waarmee die apartheidsregime redelik te koop mee geloop het. Nie te lank gelede is die dorp vernoem na die Kariegarivier; ’n Oos-Kaapse rivier wat so 100 km van die dorp vloei. 

Volgens die voorstanders van die naamsverandering, is Kariega gekies om herstellende geregtigheid te bevorder, die gebied se oorspronklike inwoners te eerbiedig en ’n gevoel van behoort aan te moedig. 

Maar, so ’n naamsverandering moet nie net die geskiedenis vereer nie, dit behoort ook ’n periode van vernuwing en algehele restorasie in te lei. Die bestuur van Kariega boer steeds agteruit. My eens pragtige en skoon dorp het die vullishoop van die prentjieagtige tuinroete geword. 

Die eens redelike veilige dorp waarin ek groot geword het, het ’n rowerspelonk geword. Die dorp, soos vele ander in die Oos-Kaap, het na sy naamsverandering steeds een van die skandvlekke van Suid-Afrika gebly. Daar het min van herstellende geregtigheid gekom!

’n Ander voorbeeld van naamsverandering woed nou landswyd in Suid-Afrika, rondom die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). Die voorstel vir die naamsveranndering van UWK is vervat in ’n artikel getiteld, “A prophet without a South African Monument. Allan Boesak and the Paradox of Recognition”. 

In hierdie artikel verduidelik Clyde Ramailain breedvoerig waarom hierdie eer dr. Boesak toekom. Die paradoks lê juis daarin dat Boesak nie dieselfde eer en erkenning hier ter plaatse geniet wat hy buite die grense van sy vaderland kry nie.

Dit herinner aan die Bybelse gesegde dat ’n profeet nie in sy eie land geëer word nie. Min mense kan en sal Boesak se bydrae tot transformasie in Suid-Afrika ontken. Onder sy leiding en inisiatief het die soms vernederende situasie wat die Sending Kerk in sy verhouding met die NG Kerk moes verduur, radikaal verander.

Die Verenigende Gereformeerde Kerk het onafhanklik geword met sy eie nasionale kerkbestuur en gemeentes is nou verantwoordelik vir hul eie predikante se versorging. 

Die skrywer is erg krities teenoor andersdenkendes se “inklusiwiteits-argument”, maar vergeet gerieflikheidshalwe van die enorme bydrae van drs. Dicky van der Ross, Jakes Gerwel en Brian O’Connell tot die transformasie van UWK. 

Verder, soos ek hierbo noem, is dit nie altyd wys om ’n instansie na ’n persoon, veral iemand wat nog lewe, te vernoem nie. Hierdie kriteria word beklemtoon deur Ali Ridha Kahn, “A university is not a monument”. En, veral omdat dit in ’n onsmaaklike polemiek kan ontaard. Dicky van der Ross se verbintenis met die destydse Arbeidsparty is opgehaal en Boesak se verlede is aan die groot klok gehang. Dit was onnodig! 

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-03-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer