Onderwyssake rubriek Godfrey Kleinhans
Onderwyssake rubriek Godfrey Kleinhans

Onderwys - Leierskap is deurslaggewend

Godfrey Kleinhans
In ‘n onderpresterende onderwysstelsel wil baie mense weet hoe 'n mens by kwaliteit onderwys gaan uitkom of hoe dit moontlik is binne die konteks van heersende omstandighede.

Baie, en veral politici, glo dat ‘n groter onderwysbegroting die enigste uitweg is. Niks is hiermee verkeerd nie. Addisionele fondse kan voorsien in behoeftes soos klaskamers en ablusiewegeriewe.

Ander agiteer vir ‘n beter onderwyser-leerling-ratio. Hulle beweer dat kwaliteit onderwys binne ons bereik geplaas kan word deur kleiner klasgroepe.

Ek weet nie of hierdie voorstel haalbaar is nie, omdat die sektor reeds met ‘n reusesalarisrekening opgesaal is.

Namibië, een van die lande in Afrika wat reeds te veel van sy bruto binnelandse produk aan onderwys bestee, sukkel sedert die vroeë 1990's om die salarisrekening binne perke te bring.

Dan is daar die groep wat van mening is dat onderpresteting voor die deur van ‘n gebrek aan orde en dissipline gelê moet word. Hulle bepleit die terugkeer van gosdiensonderrig en die lat.

Ons het hierdie paadjie al 'n paar kere gestap; hierdie opsie is nie haalbaar nie.

Debra Sheppard (sien ook die vorige twee aflewerings) sluit nie een van bogenoemde as ‘n aanwyser in nie.

Haar derde groep indikators wat kwaliteit onderwys moontlik maak, is magtigings- (enabling) faktore. Leierskap is hoog op hierdie lys. Leiers moet onder andere gefokus, volhardend, passievol en veerkragtig wees. Onderwysleiers moet ook kan staat maak op die agting en respek van die onderwysgemeenskap. Dit kom nie vanself nie, maar moet verdien word.

Owerhede moet seker maak onderwysers wat by skole aangestel word, wil daar wees. Vroeër het baie ouers hul kinders aangeraai om onderwysers te word omdat daar altyd werk vir hulle sal wees. Deesdae word egter genoeg onderwysers opgelei en onderhoudspanele kan meer selektief te werke gaan.

Twee vrae is of ons oor opleidingsprogramme beskik om kwaliteit onderwys by skole te realiseer en lewer die manier waarop onderwysers aangestel en ontplooi word ‘n bydrae hiertoe?

Die tyd wat vir onderrig en leer gereserveer word, is seker die belangrikste van al die onderwysbronne. Tyd is die alles oorheersende faktor; dit is nie net belangrik vir onderrig en leer nie, maar verskaf ook die ruimte vir al die onderwysbestuursfunksies wat by ‘n skool plaasvind. ‘n Skool word nie beperk tot die tyd wat die kurrikulum vir onderrig en leer voorskryf nie, maar is vry om ekstra tyd by programme te voeg. Stiptelikheid (time-on-task) sal ook bydra tot die optimale benutting van beskikbare tyd.

Weens die Covid-pandemie het baie onderrigtyd verlore gegaan. Met die alternatiewe skoolbywoningsprogram, waaraan die meeste skole voorkeur verleen het, het die verlies aan tyd astronomies gestyg. Die dubbelskofprogram, wat uiters geskik is vir sulke onstandighede, is deur die meeste skole vermy.

Ek wonder of die ministerie al ‘n opname gemaak het hoeveel tyd werklik verlore gegaan het en watter strategieë skole aanwend, indien wel, om daarvoor op te maak.

Ja, ons sit met baie uitdagings wat die weg na kwaliteit onderwys versper. Maar om ons daarteen blind te staar, gaan ons nie uit die benarde situasie red nie. Die werklike vraag is water beleidskeuses gaan ons maak? Hier volg ‘n paar moontlikhede.

• Dubbelskofklasse vir optimale benutting van ruimte en tyd.

• Nouer skakeling tussen opleidingsentra en skole ter verbetering van opleidingsprogramme.

• Beter beheer oor ontwikkelingsbegrotings om die oprigting van onnodige fasiliteite te vermy.

• Beter beheer oor lopende uitgawes om onnodige en nuttelose ritte en besoeke uit te skakel.

• Beter toesig deur die hoofkantoor en direktorate oor streekkantore om implementering, monitering en assistering te evalueer.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer