Onderwys – Klasafwesigheid (bunking)
Verlede week se rubriek het gehandel oor skoolafwesigheid, veral oor die oorsake en negatiewe impak daarvan. Om klasse (periodes) te mis, ’n variant daarvan, is ewe nadelig en in ekstreme gevalle maak dit die realisering van kwaliteitonderwys feitlik onmoontlik. Ek gebruik die Engelse woord “bunking” vir die verskynsel aangesien ek nie ’n Afrikaanse ekwivalent daarvoor kon kry nie. Gewone skoolafwesigheid beteken dat die leerling vir ’n dag of meer nie skool bywoon nie.
’n Leerling wat klasse doelbewus mis, beteken dat hy of sy wel vir skool opgedaag het, maar sommige klasse nie bywoon nie. Normale skoolafwesigheid kan toegeskryf word aan interne en eksterne faktore. Die interne faktore het nou te make met hoe die skool bestuur word, terwyl die eksterne faktore nou verweef is met huislike en omgewingsfaktore.
“Bunking” is ’n verskynsel wat op die skoolperseel plaasvind en het uitsluitlik te make met skoolbestuur; spesifiek die leerlingkomponent daarvan. Omstandighede op skool (klaskamer, speelgronde ens.) veroorsaak dat hy of sy eerder op die perseel wegkruip of die skoolgronde sonder toestemming verlaat, as om gereeld klasse by te woon.
Die oorsake kan gevind word in hoe die skool of die klaskamer bestuur word. Sommige onderwysers is net nie daartoe in staat om met hul lesgee-tegnieke leerlinge te inspireer om aktief deel van die onderrig- en leerprosesse te wees nie. Leerlinge kan voel hulle baat niks deur in die klas te sit nie en dat hulle hulp tuis by hul ouers en/of hul sibbe kan kry. Dit kan ook wees dat die onderwyser ’n boelie en afknouer is en gedurig op hom of haar “pik”.
Dit is onlangs beweer dat ’n sekere onderwyser ’n leerling, by ’n skool, as dom uitgekryt het. Mens vind onderwysers wat net nie leerlinge ’n rede gee om hul klasse by te woon nie. Ander leerlinge verstaan net nie sekere vakinhoude (soos wiskunde) nie, ander ervaar probleme in die tegniese vaardigheids-klasse omdat hulle “twee linkerhande” het en ander land nie by die LO-klasse nie, omdat hulle “lomp is”.
Leerlinge is in sekere klasse die teiken van ’n ewige geterg en gespot en word selfs deur boelies aangerand. Kinders kan soms moedswillig wees, maar daar is besliste redes waarom baie van hulle verkies om sekere klasse te “bunk”.
“Bunking” het net soos afwesigheid, ernstige negatiewe gevolge vir skoolprestasie. Leerlinge wat chronies periodes mis, mis waardevolle onderrig- en leergeleenthede en dis te verwagte dat hulle nie goed sal presteer nie.
Hulle is nie daar as die onderwyser moeilike konsepte verduidelik nie en mis ook waardevolle groepaktiwiteite. Dit is ook moontlik dat die gewoonte ander persoonlike nadelige gevolge mag hê.
Die skuldiges kan skuldgevoelens ontwikkel wat tot isolasie en stres kan lei. Dit kan weer tot allerlei swak gedragspatrone aanleiding gee soos oneerlikheid en leuens. Leerlinge skryf maklik andere se tuiswerk af, is oneerlik in toets- en eksamenlokale en word leuenaars. Sulke leerlinge word ook ’n las vir onderwysers aangesien laasgenoemde meer tyd aan hulle moet bestee.
Die vraag is hoe die skool die situasie kan hanteer.
In die eerste plek moet die skoolbestuur erken dat “bunking” een van die gevolge is van swak skoolbestuur. Dit is waar die wortel van die kwaad in die eerste plek gesoek moet word; hieroor twyfel ek glad nie. Selfondersoek deur die skoolhoof en sy of haar bestuurspan is die eerste stap. Dit is egter belangrik dat hierdie proses openhartig en eerlik moet wees. Slegs na hierdie proses kan strategieë bedink en geïmplementeer word om die probleem doeltreffend aan te spreek. Onderrigleiding (instructional leadership) is ’n goeie strategie om onderrigvaardighede op te skerp. Boeiende lesse, leerlingbetrokkenheid en nul-toleransie vir swak gedrag, veral ’n onnodige geterg en boelie in die klaskamer, kan baie doen om klasbywoning te waarborg. Laasgenoemde kan aangevul word deur die kweek van positiewe verhoudings met leerlinge, monitering van leerlingbewegings en gedrag op die skoolperseel,
En, natuurlik moet onderwysers ook klasregisters byhou; dis al manier hoe die skool sal weet hoe ernstig die probleem is. Verder moet ouers gereeld ingelig word wanneer leerlinge nie gereeld in die klas is nie. ’n Goeie verhouding met die skoolouers is seker die beste teenvoeter vir die probleem.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie