Godfrey Kleinhans
Godfrey Kleinhans

Onderwys – Inklusiwiteit: Insluiting en uitsluiting

Sanet Pearson
Onafhanklikwording was nie net ’n groot vreugde vir Namibiërs nie, maar het ook met groot uitdagings gekom.

Die moeilikste uitdaging waarmee die nuwe owerheid gekonfronteer was, was om die onderwys te transformeer. Onderwys in Namibië, net soos in die meeste Afrikalande, het ten doel gehad om in die arbeidsbehoeftes van die koloniale moondheid te voorsien.

Opleiding het gefokus op basiese handearbeid vir onder andere in die myne, op plase en vervoerwese. Verder was werkers nodig op lae bestuursvlakke in die openbare sowel as privaat sektor; klerke, bodes, kelners ens. Groot getalle is by hierdie tipe opleiding betrek teen baie lae koste en in diens geneem teen lae besoldiging. Later het die opleiding van onderwysers, verpleegsters en maatskaplike werkers gevolg.

Ná 1989 het Namibië mede-ondertekenaar geword van ’n hele paar internasionale konvensies en was veplig om beleide aan te neem wat konsekwent hiermee en die demokratiese grondwet was. Al hierdie internasionale konvensies en nuwe onderwysbeleide het een gemene deler gehad, naamlik inklusiwiteit. Visie 20/30 van die Nasionale Beplanningskommisie wys ook die onderwyssektor aan as die voertuig om ons na die “land van melk en heuning” te neem teen die jaar 2030. Onderwys moet dit doen deur die aanname en implementering van strategieë wat inklusiwiteit, billikheid en kwaliteit sal bevorder. Inklusiwiteit roep ons ook op om die diversiteit onder ons leerlinge te omarm en alle hindernisse uit die weg te ruim. Maar, om inklusief te wees moet ons alle uitsluitende praktyke kan identifiseer om dit uit die weg te kan ruim. Die vraag is met watter mate van sukses doen ons dit?

Ja, ons het sedert 1989 ver gevorder. Onderwystoelating het geweldig gestyg, skole en klaskamers is gebou. Skole is voorsien van laboratoria en biblioteke, baie onderwysers is opgelei en aangestel en die sektor het geweldig baie geld van die parlement sowel as donateurs ontvang. Maar, die ongelykhede bly knaend en ons sal hierdie olifant ook “knaend” moet konfronteer.

Die beskikbaarheid van geld is nou al vir jare die bepaler van waar ’n kind toelating en kwaliteitonderrig sal kry. Skole vra jaarliks, in die media, aansoeke aan vir inskrywings vir die volgende akademiese jaar. Van die inligting wat aangevra word, is duidelik daarop gemik om die sosioëkonomiese status van die ouers te bepaal. Hulle bepaal aan die hand van hierdie inligting of die ouers sal kan voldoen aan die eise van die skool. Verder moet elke aansoek vergesel wees van ’n inskrywingsfooi; ’n praktyk waarvoor ek nog nie regverdiging kon vind nie. Ten spyte van die beloftes van gratis onderwys word staatskole ooglopend toegelaat om die sogenaamde vrywillige fooi van ouers te vra. Een hoërskool in Windhoek het ’n jaarlikse fooi van N$9 200 wat gekomplimenteer word met fooie vir vakkeuses, laboratorium gebruik, ekstra kurrikulêre aktiwiteite soos afrigting in drama, musiek en kuns en deelname aan sport en atletiek. ’n Lys van addisionele handboeke, skryfbehoeftes, skool en atletiekdrag word ook voorsien wat ouers moet aankoop. Ouers met uiters begaafde en talentvolle kinders sal by hierdie skool diep in die huishoudingfondse moet delf. En alles geskied onder die vaandel van gratis onderwys. Dan is daar talle ander voorbeelde van ons eksklusiewe opset soos die straatkinders, kinders wat voortydig uit die stelsel val sonder om terug te keer en die situasie van tienerswangerskappe. Ons sal moet ernstig raak oor transformasie!

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-07-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer