Photo Caption
Photo Caption

Onderwys – In loco parentis

Godfrey Kleinhans

’n Skoolperseel is ’n besige plek met baie en verskillende rolspelers. 

Laasgenoemde word in groepe verdeel; onderwysers, leerlinge en nie-doserende personeel. Hulle word aangevul met besoekers; ouers, voogde, losiesouers, onderwysadministrateurs, amptenare van ander staatsdepartemente, verteenwoordigers van diensverskaffers, dienaars van die Woord en dies meer. 

Al hierdie interne rolspelers (personeel en leerlinge) het korresponderende vryhede en verpligtinge. ’n Onderwyser het die vryheid om op grond van sy opleiding en aanstelling as onderwyser die vryheid om onderrig aan leerlinge te verskaf. Hy het ook die verpligting om te sorg dat sy lesse goed voorberei is en dat die aflewering van ’n hoë gehalte is. Dit is die enigste weg om te waarborg dat hy/sy die vlak van kwaliteitonderwys bereik en handhaaf wat sy/haar werkgewer van hom/haar verkies. 

Die leerling is dus ’n groot deel van die dag onder die toesig van die onderwyser. Dit kan wees op die skoolperseel, op die sportveld of êrens op ’n goedgekeurde uitstappie. Dit is die tydruimtes wat die onderwyser vul in die afwesigheid van die ouer. En, dus wanneer hy/sy dan ook verantwoordelikheid vir die welsyn van die kind neem. 

Daar rus dus ’n plig op die onderwyser om soos ’n sorgsame ouer oor die welstand van die kind te waak. Hierdie verhouding tussen onderwyser en kind word deur die in loco parentis-leerstuk gereël. Ek het al voorheen hieroor geskryf, maar ek doen dit weer met meer toeligting. 

Soos voorheen genoem, het die leerstuk sy oorsprong in die Engelse Reg. Die behoefte daarvoor het ontstaan in die Engelse privaat onderwysinrigtings; skole en huise waar onderrig gegee is. 

Om onderwys suksesvol te laat gebeur, moes die ouers noodwendig hul gesag aan die onderwyser delegeer. Dit is om onderrig te gee, om van die kind sekere verantwoordelikhede te eis en om die kind te dissiplineer. Hierdie leerstuk het posgevat in publieke skole en het in 1855 deel van die Cheadle Hume School se leuse geword. Dit het ook deel van die Britse onderwyswetgewing in 1870 geword. 

Onderwysers het van toe af nie net die vryheid gehad om onderrig te gee nie, maar ook om die kind te dissiplineer en te beskerm. Natuurlik verskans die leerstuk ook die onderwyser teen onveilige werksomgewings, onregverdige arbeidspraktyke, minagting van haar/sy menswaardigheid, beskerming teen diskriminasie en sy/haar se reg om lid van ’n vakbond te wees. 

Tot aanvulling van die verpligtinge hierbo genoem, word ’n uiters professionele gedrag van die onderwyser verlang; dit is teenwoordigheid en stiptelikheid, deeglike administrasie, konfidensialiteit en die handhawing van dissipline aan die hand van alternatiewe dissiplinêre opsies,. 

Nou, wat is die trefwydte van die leerstuk? 

Die saak van Mhlongo v MEC for Education, Gauteng (2024) het gegaan oor ’n leerling wat op die skoolperseel beseer is. Die hof het bevind die skoolhoof en die onderwysers het ’n verpligting gehad om die leerling se veiligheid te verseker. Hulle het nie! 

In die Wes-Kaapse saak van Mageni (2021) het die hof tot dieselfde gevolgtrekking gekom. In ’n appèlhof-saak in Suid-Afrika het die hof bevestig die leerstuk is van toepassing al is dit buite die skoolperseel. Hier het dit gegaan oor ’n besering wat ’n leerling op die rugbyveld opgedoen het. Die hof het bevind die skool het nagelaat om vir voldoende noodhulp te reël. 

In die Enock Mpanzi-saak het die voorval nog verder van die skoolperseel plaasgevind. Skoolseuns moes ’n vlot bou en daarmee op die Krokkedilrivier vaar. Die vlot het omgeslaan en Enock Mpanzi het verdrink. Die hof het bevind die skool was aanspreeklik vir sy dood. 

Wat is die normale toets wat gebruik word om nalatigheid te bepaal? Hier gebruik die howe die redelikheidstoets. 

Eerstens, vra die hof of die onderwyser soos ’n sorgsame ouer enige gevaar moes voorsien het? 

Tweedens, watter redelike stappe is gedoen om die gevaar te voorkom en derdens hoe streng die toesigverpligting in die geval van hoërisiko-aktiwiteite was? 

’n Leerling van die Woodridge School is ernstig beseer tydens ’n ski-uitstappie. In die saak (Chittock v The Woodridge School) kom die hof tot die gevolgtrekking dat die skool nie nalatig was nie. Die onderwyser het die leerling aanhoudend gewaarsku; die wou eenvoudig nie gehoor gee nie. 

En laastens, word die skool gevrywaar deur die vrywaringsertifikaat wat die ouers voor ’n uitstappie onderteken? Nee, dit het alleenlik waarde as die onderwysers alle moontlike gevaarsituasies kon voorsien en redelike voorsorgmaatreëls in plek gestel het om die leerlinge se veiligheid te waarborg. 

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.



Kommentaar

Republikein 2026-08-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer