No Image Caption

Onderwys – Groter betrokkenheid

In die meer as 250 aflewerings in Republikein het ek heelwat geskryf oor verbeterde gemeenskaps- of ouerbetrokkenheid. Ek het eintlik daarvoor gepleit omdat ek oortuig daarvan is, dat dit die sleutel tot gehalteonderwys is.

Ek het veral heelwat gefokus op die bevoegdhede van skoolrade en die stigting van onderwysforums in al die streke. Gemeenskapsbetrokkenheid in die ||Kharasstreek het die afgelope paar jaar ’n laagtepunt bereik. Die streek beskik nie oor ’n onderwysforum nie en aanbiedinge om by onderwys betrokke te raak, is ferm van die hand gewys. Hierdie weiering om ’n onderwysforum in die lewe te roep is nie net ’n verontagsaming van die onderwyswet nie, maar ook ’n miskenning van die ||Kharas-inwoners se reg om deel te hê aan die onderwysstelsel. Snaaks, hierdie stand van sake is algemeen bekend, maar niemand het iets daadwerklik gedoen om die situasie te verander nie. Tragies!

Ons ontslape president sou die opening van die volgende parlementsitting waarneem en die tema van sy toespraak sou “Verbeterde Openbare Betrekkinge” wees. Dit sou ’n versoek/opdrag aan al die staatsdepartemente wees om goeie verhoudinge met die publiek te stig en te handhaaf. Hierdie tema lê my baie na aan die hart en het my beweeg om weer aandag aan die omderwerp te gee. Ek is daarvan oortuig dat gemeenskapsbetrokkenheid die sleutel tot sukses is. Wat my verder oortuig het om weer tyd aan die onderwerp te bestee, is die saalprojek van die Krönlein Primêre Skool in Keetmanshoop. Maar, later hieroor.

Ek is oortuig daarvan dat die meeste van ons skoolbesture en -rade vertroud is met die begrip ouer- of gemeenskapsbetrokkenheid, maar hoe dit uitdrukking binne die huidige opset vind, is ’n heel ander saak.

In hierdie aflewering wil ek graag fokus op die betrokkenheid van belangegroepe of individue binne die skoolopset. Ek is oortuig daarvan dat die waarde van belangegroepe grotendeels in hierdie streek onderskat word. Maar, eers ’n definisie van die belangegroepe.

Belanghebbendes of belangegroepe is individue en/of groepe wat ’n direkte of indirekte belang in die sukses van die onderwysstelsel of ’n skool het. Hulle sluit in onderwysadministrateurs, onderwysers, leerlinge, skoolouers en hulle verteenwoordigende organe, en die streekonderwysforum.

Verder sluit dit ook eksterne groepe, soos organisasies wat hulle beywer vir beter onderwysgeleenthede, kerkdenominasies, naskoolse opleidingsinstansies, werkgewers- en werknemersverenigings, streek- en plaaslike owerhede, diensverskaffers, soos die verspreiders van skoolhandboeke, boekwinkels en donateurs in. Op plaaslike vlak het almal belang by die skool en kollektief stel almal slegs belang in die realisering van gehalteonderwys. Hierdie instansies kan instrumenteel wees in die sukses al dan nie van die skool. Verder, die skoolklusterstelsel is gestig om kommunikasie tussen skole te verbeter, om kostes te verminder en om onderwysers en skoolrade te bemagtig. Volgende keer gaan ons verder met hierdie onderwerp.

Ek dra graag die aflewering op aan ons ontslape president en wel met die volgende van Mary Elizabeth Fry:

“Do not stand at my grave and weep

I am not there. I do not sleep.

I am a thousand winds that blow.

I am the diamond glints on snow.

I am the sunlight on ripened grain.

I am the gentle autumn rain.

When you awaken in the morning's hush

I am the swift uplifting rush

Of quiet birds in circled flight.

I am the soft stars that shine at night.

Do not stand at my grave and cry;

I am not there. I did not die.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer