Godfrey Kleinhans
Godfrey Kleinhans

Onderwys – Grondwetlike reg op onderwys

Godfrey Kleinhans

Die afgelope drie weke het ons aandag aan enkele aspekte van die agtergrond van die onderwysreg gegee. 

’n Basiese mensereg wat in grondwette wêreldwyd opgeneem word, is die reg van elke persoon tot onderwys. Dit is hierdie reg wat stukrag verleen het aan die aanname van internasionale onderwys- en kinderregtekonvensies; dit is ook die reg wat verantwoordelik is vir die instandhouding daarvan. 

In die Namibiese Grondwet word hierdie reg duidelik en onomwonde gestel. Dit word verleen aan alle persone, ongeag etnisiteit, ras, taal, godsdiens en sosioëkonomiese status. Dit is hoe dit verstaan word in die demokratiese wêreld! In Namibië het dit ’n geweldige impak op onderwys sedert 1989 gehad. Daar is geen duideliker bewys as die netto-toelatingskoers (NER) van 77,34% in 1989 teenoor die van 97,34% van 2024 nie. 

Dan moet mens ook in ag neem dat die geboortekoers vir die periode kleiner is as die koers waarteen die NER toegeneem het. In der waarheid ’n groot sukses vir ’n klein land met ’n beperkte onderwysbegroting. 

Beperkte befondsing het egter oor die jare ’n uiters negatiewe impak gehad; die konstruksiekoers kon nooit tred hou met die groei van die toelatingskoers nie. Maar, dis ’n probleem wat voor die deur van die owerhede gelê moet word. 

Onderwys in Namibië spruit uit ’n uiters diskriminerende en verdelende opset. Soos die stelsel etnies verskil het, het dit in voorsiening gediskrimineer. Ná 1989 was artikel 20 van die Grondwet vir vele ’n probleem. Ná die vestiging en demokratisering van onderwys in die land, het baie skole eiegeregtig hul gebiede afgebaken. Op grond van die inligting wat deur middel van die aansoekvorm verkry is, was dit maklik vir skole om die vermoë van die ouers van die aansoekers te bepaal.

Op hierdie wyse kon die skole hul leerlinge kies en bepaling 20 van die Grondwet omseil. Ek het destyds per skrywe by die sittende minister beswaar gemaak, maar daarvan het dadels gekom.

Die reg op toelating tot onderwys het ook al ’n hele paar draaie in die howe geloop. Skole in die VSA was tot in die 1950’s nog erg gesegregeerd. Segregasie in die VSA (en so ook die skole) is stelselmatig tussen 1954 en 1968 uitgeroei; natuurlik met groot teenstand. Dit was eers in 1955 dat die hoogste hof in die land by monde van Brown vs Board of Education (1954) uitdruklik verklaar het dat segregasie onkonstitusioneel is. Daarna het die veranderings in sommige dele van die land skoorvoetend gekom, maar dit het gekom! 

In Namibië het die ministerie destyds ’n regulasie uitgereik dat swanger meisies in staatskole, die skool ten minste vir een jaar moes verlaat. In Karuaihi v Ministry of Education (2006) het ’n swanger meisie aangevoer dat die regulasie uiters diskriminerend en in stryd met art. 20 van die Grondwet was. Hierdie saak is buite die hof geskik, maar dit het nogtans die ministerie beweeg om die meer progressiewe tienerswangerskap-reëling aan te neem.

Geen swanger meisie hoef nou meer die skool te verlaat, behalwe vir die bevalling nie. ’n Belangrike hofsaak wat die tentpenne van die grondwetlike reg op onderwys wyd ingeslaan het, was Centre for Child Law v Minister of Basic Education (2019) in Suid-Afrika. Hier het die hof beslis dat ongedokumenteerde kinders nie uitgesluit is van die grondwetlike reg op onderwys nie. Dis belangrik om daarop te let dat die hof beslis het dat onderwys vir alle kinders in die land is ongeag grense en nasionale of immigrasiestatus. 

Die hof het verder gegaan as ras, sosiale status, godsdiens en taal. ’n Ander grondverskuiwende beslissing is gegee in Equal Education v Minister of Basic Education (2020). Gedurende Covid-19 is alle skole gesluit vir solank as wat die pandemie voortgeduur het.

Die staatsvoedingskema wat kos aan behoeftige kinders voorsien het, is ook opgeskort. Hier het die hof beslis dat hierdie kinders steeds geregtig was op die maaltye, al was die skole gesluit. Daar is nog baie voorbeelde, hier in ons buurland, wat bewys dat die reg op onderwys swaarder weeg as meeste ander oorwegings. 

Nou het daar nuwe teenstrydigheid kop uitgesteek. Skole verwag ’n sogenaamde aansoekvorm-fooi van nuwe aansoekers. Volgens inligting aan my bekend, wissel die bedrag van N$20 tot N$50 per aansoek in Keetmanshoop. Hierdie reëling van skole is duidelik in stryd met die beginsel van gratis basiese onderwys. 

Die ministerie sal dringend iets hieraan moet doen voordat die kritiek op loop en die situasie handuit ruk. Dis weer eens baie duidelik dat hierdie een area is wat skreeu om indiensopleiding.

– [email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-11-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer