Onderwys – Grondwet, skool en kultuur
Iemand het lank gelede kultuur soos volg verduidelik. “God makes man, man makes cultures.”
Kultuur is dus ’n wyse van saamleef deur mense in groepe en vind uitdrukking in hul waardes, tradisies en gewoontes. Kortliks, hoe hulle leef en saamleef. Ooreenkomstig ons Grondwet het elke persoon die reg om sy/haar kultuur uit te leef op die voorwaarde dat dit nie teen individuele regte en nasionale belang indruis nie. Hierdie artikel (19) staan baie na aan die vryhede vervat in artikel 21. Ná 1989 moes Namibiese skole (en die in Suid-Afrika ná 1994) afstand doen van hul homogene karakter en hul deure vir leerlinge uit elke denkbare kulturele milieu open. Wat die invoer van Engels as onderrigtaal betref, is daar heelwat teen die prikkels geskop. Prof. T. du Plessis, van ons buurland, het veral gewys op die negatiewe impak wat dit op die skoolprestasie van leerlinge wat nie tradisionele gebruikers van die Engelse taal was nie, kan hê. Hier ter plaatse is soortgelyke geluide gehoor. Die relevante vraag nou is hoe skole die kulturele regte van leerlinge beskerm en handhaaf?
Kultuur is belangrik in die lewe van gemeenskappe. Dit is noodsaaklik in die bou van identiteit, waardes en lewenswyses. Dit gee ’n gevoel van behoort en kontinuïteit. Soms word dit opgehef tot iets heiligs wat tot skerp kulturele skeidslyne tussen gemeenskappe in dieselfde land lei. In hierdie opsig dra dit geensins by tot nasiebou nie. Dit het ook al in die verlede gebeur dat sterk kultuurgroepe hul wil op ander afdwing. Op laerskool, doer in die vyftigerjare, het ons volksdanse gedoen en ATKV-liedjies gesing wat wesenlik deel van die Afrikaner-kultuur was en nog is. Maar, dit was deel van die kurrikulum van die sg. kleurlingskole en ons moes doen! Baie mense vandag is ook die mening toegedaan dat daar iets soos ’n eie kleurlingkultuur is. Baie sal ook die manier van lewe in die Kaap en Kaapse platteland na “kleurlinge” dwarsoor ons buurland uitbrei.
Baie politieke leiers wat die sg. kleurling-identiteit en -kultuur wou bevorder het droewig daarvan afgekom. Aan die ander kant het baie volkere se bestaan tot ’n einde gekom deurdat hul lewenswyses deur vyandige invallers binnegedring is en hul bestaansstrukture totaal oorgeneem is. Die destydse Rome behoort hier die geheue opgeroep te word.
Maar, kom ons keer terug na die vraag hoe ons ’n leerling se kulturele regte op skool beskerm. Weens ’n gebrek aan toepaslike regsoutoriteite in Namibië, moes ek my tot ons buurland wend.
Die leidende outoriteit in Suid-Afrika is MEC for Education: KwaZulu-Natal and Others v Pillay ([2007] ZACC 21). Sunali Pillay, ’n leerling aan die Durban Hoër Meisieskool, is deur die skool verbied om ’n juwelierstuk aan haar neus te dra. Sunali is voor ’n keuse gestel; haal af die juweelstuk of verlaat die skool. In terme van die skoolreëls was meisies slegs toegelaat om ’n armhorlosie en ’n oorbel te dra. Sunali se ouers se verweer was die dra van ’n neusstuk is ’n kulturele tradisie en dat dit tydens ’n godsdienstige seremonie ingesit word. Die ouers was van mening daar word teen hul dogter gediskrimineer.
Hierdie saak het uit die skoolhoof se kantoor in die gelykheidshof, die hoërhof en konstitusionele hof beland. Die gelykheidshof het die skool gelyk gegee; die skool was nie onbillik nie en het nie teen die meisie gediskrimineer nie. Op appél het die hooggeregshof die beslissing van die gelykheidshof ter syde gestel. Die skool was onbillik en het wel teen die meisie gediskrimineer. Die uitvoerende hoof vir onderwys in KwaZulu-Natal het nie hierdie beslissing aanvaar nie en hom tot die konstitusionele hof gewend. Hierdie hof se uitspraak het die vorige hof se beslissing bevestig. Die hof voer aan dat die skool redelike ruimte moet reël vir die uitleef van kulturele en godsdienstige praktyke van leerlinge. Skole moet ook seker maak dat hul gedragskode vir leerlinge nie in stryd is met die basiese regte van leerlinge nie.
Dit is vir skole belangrik om daarop te let dat gedragskodes nie verhewe bo die regte van leerlinge, vervat in die Grondwet en ander mindere wetgewing, is nie. Dit sal skole loon om hul gedragskodes gereeld teen bestaande regsreëls te toets en ook om kundiges (oudskoolhoofde en -onderwysadministrateurs) se hulp in te roep met die opstel daarvan.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie